Wednesday 30 March 2011

Aangename kennis

Ek moet sê, ek het vir ‘n hele tydjie gewonder of ek ‘n blog moet begin of nie. Die tipiese navorser wat ek is, het eers alles gaan opsoek oor blogs: watter blog website is die beste om mee te begin, wat is die voor- en nadele van blogs, kan mens beroemd word met jou blogs, ensovoorts. Daar was ’n paar dinge wat my laat twyfel het, maar op die ou end het my lus vir skryf te veel geraak. So hier is my eerste bloginskrywing, en dit voel wonderlik!

Ek is ’n derde jaar student op universiteit. Wanneer mense aan my vra wat ek studeer, is dit altyd interessant om hul gesigsuitdrukking te sien wanneer ek terug antwoord met “BSc Biodiversiteit en Ekologie”. Dis nogal ’n mondvol, ek weet. As hulle na 5 sekondes steeds met verwarde wye oë na my staar, dan weet ek hul het geen idee wat ek gesê het nie. Ek kon net sowel Grieks gepraat het. Dan verduidelik ek my studierigting: “Plant- en Dierkunde” of “Plante en diere en hoe hul in ’n omgewing saam leef”. Dis dan wanneer die liggies aangaan. Ek blameer hul nie. My rigting klink amper soos ’n tonguetwister. Maar dit wat ons leer is baie interessant. Ons kla baie oor die werkslading (en dit ís hoog), maar ek’s altyd verras met die hoeveelheid kennis wat ek opdoen. Ek kan baie vertel, maar dis ’n storie vir ’n volgende blog...

Die ander rede waarom ek met ’n blog begin het, is omdat ek nie meer my kreatiwiteit vir myself wil hou nie. Wat help dit mens skryf gedigte, stories, liedjies, boeke of rubrieke, maar jy hou dit vir jouself? Die kunste in skryf is nooit objektief nie; iets wat een persoon nie goed vind nie, is weer goed vir ’n ander. Ek wil skryf sodat ander dit kan lees. Wie weet, dalk word ek die volgende J.K. Rowling!

Ek was brieweredaktrise van ons hoërskoolkoerant, en verlede jaar is my eerste (en laaste) rubriek in die universiteit se koerant geplaas. Toevallig was die redaktrise van my skoolkoerant, en dié van die universiteitskoerant nou, dieselfde persoon...

Daar word konstant aan ons vertel wat om te skryf en wat mag nie genoem word nie. Wel, ek gaan dit nie hier duld nie! Ek sal die woord “kuier” gebruik wanneer ek wil, al het my onderwysers dit ’n slegte konnotasie gegee. Ek sal skoolkinders raad gee oor hoe om tyd in saalperiodes vinniger te laat verby gaan, al glo onderwysers dit sal ’n slegte invloed op hul hê. Ek sal aanhou skryf, al dink die redaksie dat my rubriektemas beperk is en my skryfstyl werk nodig het.

Waarom hulle my in die eerste plek as rubriekskrywer aangestel het, net om my (voor my tweede rubriek) te vervang, sal ek nooit verstaan nie. Dit voel vir my hul het nooit vir my ’n ordentelike kans gegee nie. Ek was skaars gewoond aan die idee, toe word ek afgedank. In die afgelope 3 maande was 2 Afrikaanse rubriekskrywers vervang deur ander skrywers. Waarom sukkel hulle nog met Afrikaanse rubrieke as meer as die helfte van die bladsy gevul word met die Engelse rubrieke elke keer? En die ergste van alles is, dit wil voorkom asof die een wat my plek ingeneem het al my idees, wat ek vroeër vir die redaktrise gestuur het, gebruik. O, ek dag my idees is beperk? Kyk, ek kan altyd my sinskonstruksies en anglisismes verbeter, maar die redaksie van nou sal nooit werksetiket begryp nie.

Al vermeerder die spelfoute in die studentekoerant soos die jaar aangaan, sal ek dit altyd lees. Dis my manier om op hoogte van kampusnuus te bly, aangesien ek as derdejaar nie meer baie uitkom nie... Miskien doen ek weer aansoek. Die redaktrise het my gevra, want volgens haar het ek potensiaal. "Natuurlik het ek potensiaal!" dink ek by myself. *Sarkasme aan*. Dis sy wat geïntimideer is deur my, as julle my vra. Jaloesie laat mens lelike dinge doen. Maar wat weet ek? My kreatiwiteit is mos beperk... *Sarkasme af*.

Hopelik sal ek verbeter met elke skryfstuk en groei as toekomstige Afrikaanse skrywer. Dit is my groot droom.