Thursday 18 September 2014

'n Afskeidsbrief aan 'n getroue vriend

My liewe vriend.

Die afgelope ses jaar saam met jou was wonderlik. Ons het byna elke dag saam deurgebring. Jy is waarskynlik die een vriend wat letterlik die meeste kilometers saam met my gereis het, my gedra het, my veilig by my bestemming en terug tuis gebring het. Jy het nooit iets te sê gehad nie, en tog het ek jou verstaan. Die respek wat ek jou gegee het, het ek terug van jou ontvang.

Jy was lank deel van die familie, maar jy moes omtrent 11 jaar wag voor ek tyd saam met jou kon spandeer. Ek moet erken dat ek skepties was oor jou in die begin. Jy was nie my tipe nie. Ons verhouding het begin met 'n geruk en gepluk, en 'n stamp of twee. Ek het 'n paar dae geneem om my voete te vind by jou.

Tog, hoe meer ek jou leerken het, hoe meer het ek van jou begin hou. Daar was baie soos jy, maar jy was myne. Jy het op jou eie uitgestaan. Wanneer my vriende jou gesien het, het hulle geweet ek is ook in die rondte. Die vryheid wat ek in jou gevind het, het my horison verbreed. Al die plekke wat ons besoek het, alles wat ons gesien het, die ompaaie en avonture, en daardie tye waar jy agter die stuur inklim en sien waarheen die wind jou waai...

Sommige mense sal sê jy is net 'n voertuig, maar hul sal nooit die band wat ons twee gevorm het verstaan nie. Jy is soos 'n eerste liefde waar alles nuut is. Jy was my eerste kar, ek het my eerste stampe met jou gemaak, ek het die snelweg die eerste keer met jou aangepak, jy was kampus toe saam met my, ek was daar met jou eerste kar-inbraak, ek weet hoe klink 'n band wat bars danksy jou, en jy was daar toe ek met my eerste werk begin het. Dalk is ek meer sentimenteel as die gemiddelde mens, maar jy is goud werd, al is jy groen van kleur.

Dit het egter tyd geword dat ek aanbeweeg. Alhoewel ek jou mooi opgepas het, word jy nie jonger nie, en die paaie wat ek moet aandurf word langer en gevaarliker. Dit beteken nie dat jy nie 'n goeie kar is nie. Inteendeel, jy is 'n "collectable". Daarom wil ek jou in die rondte hou so lank as wat ek kan.

Ek ry nou wel met 'n nuwe kar, maar jy sal altyd in my hart bly. Jy was tog my eerste kar, my leermeester. Ons sal mekaar steeds elke dag sien, al is jy nie meer myne nie.

Ou groen Gholfie, my Groen Mamba, ek is lief vir jou. Kyk asseblief mooi na my boetie soos wat jy na my gekyk het. Ek is seker julle twee sal net soveel kilometers se avonture saam geniet.

Baie liefde xxx

Saturday 15 June 2013

Die Lank en Kort van Langafstand Verhoudings

As daar een ding is wat ek die afgelope vyf jaar geleer het, is dit dat langafstand verhoudings kan werk. Dis moeilik, maar nie onmoontlik nie, tot op 'n sekere punt natuurlik. Nie almal besit dieselfde grensvlakke nie, en almal het 'n opinie oor wat 'n te lang afstand is...

Ek praat uit persoonlike ondervinding. My geskiedenis van langafstand verhoudings het met 'n Belg begin. Wat begin het as 'n penvriendskaplike (pen pal) verhouding het verander na 'n somervakansie romanse en uiteindelik opgeëindig as 'n eerste ware liefde...op 'n afstand. Dis in hierdie tyd wat ek geleer het om lughawens te waardeer en te haat op dieselfde tyd: die natuurlike high van opgewondenheid wat jy voel wanneer jy jou geliefde weer sien en dan die hartverskeurende laagtepunt wat opbou na 'n tyd wat hy of sy weer moet vertrek. En jy weet nie presies wanneer julle mekaar weer gaan sien nie. Dit moet weer beplan word, wie vlieg volgende na wie wanneer vir hoe lank. Soveel dinge moet in aanmerking geneem word.

Nadat hierdie verhouding verbreuk is (nie deur my nie), het ek weer liefde gevind by 'n Engels-sprekende Suid-Afrikaner. Hy praat nou nie my eerste taal nie, maar hy woon darem nader aan my huis, al is dit 'n uur se ry. Wanneer ek dit vir sommige mense vertel, is hul reaksie: "O, so dis 'n langafstand verhouding". Nee my liewe mens. Ek verkies 'n uur met die kar bo tien of elf ure met 'n vliegtuig, baie dankie.

'n Paar dae terug het my geliefde egter op 'n vliegtuig geklim om vir te minste ses maande in Suid Korea te gaan werk. En hier bevind ek myself weer in die situasie as 'n gras-weduwee. Te minste weet ek vir 'n feit hy kom terug, nie dat dit my minder as 'n babatjie laat huil het nie...

Waarom waag mense dit om in langafstand verhoudings te wees? Dis eintlik eenvoudig: jy is lief vir die persoon. Jy besluit om die afstand kans te gee omdat jy hom of haar graag in jou lewe wil behou. Jy stel nie belang in enige iemand anders nie. En soms is die mense wat die verste bly nader aan jou as die mense naaste aan jou.

Ek het wel 'n paar belangrike wenke vir my mede gras-weduwees en -wewenaars wat langafstand verhoudings aanbetref:
  • Jy moet meer as 100% seker wees oor wat jy vir jou maat voel. Moenie hul aan 'n lyntjie hou nie. Dit sal nie regverdig wees as hulle hul wêreld verlaat en jy los hul na die tyd nie.
  • Eerlikheid, vertroue en kommunikasie. Sonder hierdie drie eienskappe gaan die verhouding nie die afstand oorleef nie.
  • Maak gereelde kontak met mekaar. Daar is baie maniere om dit te doen: BBM, Whatsapp, SMS, foonoproepe, Google Talk, e-pos, Skype, briewe, posduiwe en ander soortgelyke middels. Gebruik rookseine en Mxit as dit moet! Indien die tydsone ver verskil, is beplande afsprake baie belangrik.
  • Onthou dat daar tye sal wees wanneer jou geliefde besig gaan wees. Gun hul ook tyd met hul familie en vriende.
  • Die lewe gaan aan. Kry 'n stokperdjie of doen sport om jou besig te hou. Dit sal tyd vinniger laat verby gaan.
  • Doen nou en dan iets oulik, byvoorbeeld deur 'n liefdesbrief te pos of om 'n "omgee pakkie" te stuur. Wees kreatief.
  • Besluit wat jul uit die verhouding wil hê. Die uiteinde moet wees dat jul bymekaar sal uitkom. Maak planne om mekaar fisies te sien tot jul daardie doel bereik.
Wanneer daar ware liefde is, is afstand eintlik net 'n nommer. Solank daar 'n definitiewe plan is om bymekaar uit te kom en bymekaar dan te bly, behoort 'n langafstand verhouding net 'n klein hobbel te wees tot geluk. Moenie moed verloor nie. Ek het 3.5 jaar uitgehou met my eerste een. Daar is mense wat langer gewag het, en vandag baie gelukkig is.

En asseblief, een uur se ry is wragtag nie so ver nie.

Monday 31 December 2012

2012: Einde van die Wêreld Insigte

2012: Wat 'n vreemde jaar, dis al wat ek kan sê. Dit was nie die slegste jaar nie, maar ook nie die beste nie. Dit was net doodgewoon vreemd. Of dit te make gehad het met die feit dat die wêreld veronderstel was om te vergaan, weet ek nie. Maar die aarde draai nog, net soos verlede jaar, en die jaar voor dit en twee jaar voor dit... Volgens Wikipedia moes die wêreld 634 BC al vergaan het, en alhoewel heelwat spesies al uitgesterf het, staan ons nog hier, die boonste punt van die voedselketting, die "top-spesie".

Net omdat meer natuurrampe, soos Hurricane Sandy en Typhoon Bopha, die rondte doen op moeder aarde, beteken nie sy is besig om te vergaan nie. Natuurrampe is soos verkoue: dis iets wat soms gebeur. Ek praat dit nie goed nie, maar as jy nie voorsorg tref nie, gaan jou gesondheid agteruit gaan (sê ek wat veilig weg van al daardie "winde" is). Ons moes voorsorg getref het met globale verhitting, maar sommige mense wil mos nie luister nie...

Hierdie jaar was die jaar van die Olimpiese Spele in Londen (ons swemmers en paralimpiese atlete het soos altyd nie teleurgestel nie), Curiosity wat voorwaarts mars suksesvol op Mars geland het, Whitney Houston en Neil Armstrong wat oorlede is (moet hom tog nie met Lance Armstrong verwar nie), die SOPA (Stop Online Piracy Act) debat, die KONY 2012 video wat die rondte gedoen het, Prins William en Kate wat hul eersteling verwag, en twee swart presidente wat vir 'n tweede termyn aangestel is (waarvan een 'n soveelste vrou ingewerp het). En moenie vergeet van Riaan Cruywagen wat, na jare op TV en nuus, afgetree het. Daar is Afrikaans finaal in sy tjops in wat die SAUK aanbetref. Een van die min dinge/mense wat konstant gebly het, ons Afrikaans-sprekendes veilig laat voel het, is weg.

Daar was ander gebeurtenisse wat my laat voel het die wêreld kan maar eindig. Dit was vir almal 'n skok toe Lance Armstrong van al sy Tour de France medaljes gestroop is as gevolg van sy gebruik van prestasie-verbeteringsdwelms (weereens, moet hóm nou nie verwar met Neil Armstrong nie). Vir jare het hy ons mislei as die beste fietsryer ter wêreld. Dan is daar Uganda wat met alle geweld hul Kill the Gays Bill wil laat aanvaar.

In Indië is 'n 23-jarige meisie dood in die hospitaal nadat sy deur ses mans op 'n bus vir 'n uur lank verkrag en aangerand is. In 'n ander saak het 'n 17-jarige meise selfmoord gepleeg nadat sy ook verkrag is deur 'n groep mans, maar in plaas daarvan dat die polisie haar help, dwing hul haar om die saak terug te trek teen vergoeding, of om een van haar aanvallers te trou. Wat de hel is die polisie se probleem?!

Marikana en die stakings wat daarna gevolg het in ander sektore van die land, het nie Suid-Afrika te goed laat lyk nie. Ek verstaan die wil vir staak, maar waarom moet soveel onskuldige mense vermoor word en verwoesting gesaai word in die proses... Ook onlangs het 'n groep drommels in 'n Amerikaanse skool ingevaar en talle kinders en onderwysers dood geskiet.

Het julle geweet Lonesome George is ook hierdie jaar dood? Ek nie. Weet julle wie hy was? Ek ook nie, so ek het gaan opsoek. Hy was die laaste individu van die Pinta Eiland skilpad subspesies. Hierdie subspesie het dus amptelik uitgesterf hierdie jaar. Wie weet hoeveel ander spesies het hierdie jaar en gaan nog binnekort uitgewis wees. Hierdie jaar is daar reeds 633 renosters gestroop in Suid-Afrika.

'n Oomblik van stilte vir die almal wat hierdie jaar oorlede is: die stakers wat dit nie verdien het nie, dié wat vermoor is deur stakers, die volwassenes, die kinders, mense van ontwikkelde en ontwikkelende lande (al is hul nie nuuswaardig nie), mense wat ons geken en nie geken het nie, en alle diere.

Hierdie jaar het wel ook tot nuwe insigte gelei. Kanada het alle verbindinge met Iran verbreek omdat hul nie saamstem met hul ondersteuning vir die Siriese regering en hul skending van menseregte nie. 'n Baas van 'n renoster-sindikaat het 40-jaar tronkstraf gekry. Indië staak omdat hul gatvol is vir verkragters wat wegkom met alles. Die hele wêreld is in opstand. Meer en meer mense val nie net meer vir enige iets nie. Meer mense het tot nuwe insigte gekom, waar ander nie.

My jaar was self 'n rollercoaster. My jaar het afgeskop met 'n drie maande verblyf in België, en met my terugkoms het my eks met my opgebreek na 'n verhouding van 3.5 jaar. Waarom? Want hy het een oggend opgestaan en besef hy voel niks meer vir my nie. En ja, ek is seker daar was nie 'n derde party nie, ingeval jul wonder.

My laptop het nie meer so lekker gewerk nie, toe stuur ek dit in om reg te maak, net om 'n "stukkender" een terug te kry. Na 'n paar ander IT ouens dit nie kon regmaak nie, stuur ek dit toe vir ons versekering om dit reg te maak of 'n nuwe een te gee. Hiep hiep hoera, op een of ander wonderwerklike manier kry hul dit aan die gang, hul sal dit by my kom aflewer. Die dag kom, maar hul lewer nie af nie. Ek hoor toe dat die kar waarin hul als vervoer, is gehijack. En raai wie se laptop was ook in die kar? Jip, myne. Hiep hiep hoera...

Ek het darem ook tot 'n paar nuwe insigte gekom. Ek kon 4 jaar saam met 'n goeie ou gevier het, maar in plaas daarvan het ek geleer dat ek kan volgroeid en lief wees vir myself sonder dat iemand anders my eers moet liefhê. Ek het volhard in 'n langafstandverhouding, so ek kan enige verhouding in die toekoms aanpak, maak nie saak watter moeilikhede voorkom nie. Ek is sterker as wat ek gedink het, ek sal hierdeur kom net soos baie ander mense al het. My eks sal altyd 'n plekkie in my hart hê, maar dit sal nie meer die meeste plek inneem nie. Ek het wonderlike familie en vriende wat my ondersteun wie ek nooit hoef te wantrou nie. En ek het 'n nuwe laptop gekry!

Daar is soveel nuwe goed wat ek geleer en aangepak het hierdie jaar. Ek het 'n bloedskenker geword, met klawerbordlesse begin en selfverdedigingklasse. Ek het ook my eerste vakansiewerk gedoen.

My enigste nuwejaarsvoornemings is om gewig te verloor, goed te doen in my studies soos ek hierdie jaar het (ten spyte van alles wat ek deur is) en om weer te begin dans (ek mis dit verskriklik). Dis al wat werk verrig. Die res moet vanself kom anders kan mens dit net sowel los. Volgende jaar is die jaar van die slang, my jaar, so ek gaan na myself kyk en my beste doen in alles wat ek aanpak. Probeer als en behou die goeie. Ek is oop vir enige iets, selfs Gangam Style!

2013, ek is reg vir jou!

Friday 12 October 2012

Huisdier Oefeninge

‘n Paar maande terug kon ek sê dat ek langer uit die land was as in my tuisland. Na my drie maande besoek in België was dit skaars twee weke voor ons na Namibië vertrek het vir drie weke se vakansie. Vir my was dit egter drie weke van ontkenning, hartseer en teleurstelling. Sien, ek was besig om te rou na ‘n liefdesteleurstelling ‘n 3.5 jaar lange verhouding beëindig het. Tussen dit en studies was dit maar moeilik om ‘n pen vas te hou, wat nog te sê pen op papier sit...

Daarom bestaan die lang pouse op my skryfwerk. Nietemin, my hart is nou besig met rehabilitasie en dit pyn (letterlik) nie meer so baie nie. Dit is ook te danke aan my familie en vriende se ondersteuning. Dit voel goed om weer terug in ‘n roetine te wees in ‘n plek wat jy ken.

Een van hierdie daaglikse roetines, wat ek bly is om weer van deel te wees, is om na die gim te gaan. Vir ons huisdiere wat nie veel uitkom nie is dit maar die manier om by te bly met jou fiksheid. Verlede jaar het ons klas berge geklim, op begrafplase rond geloop, in riviere geswem, deur riete gekruip, en na eksamenlokale gehardloop. Nou bly ek tuis en beweeg meestal tussen my kamer, badkamer en kombuis. Artikels lees is my sport.

Gim is natuurlik nie vir almal nie, maar oefening oor die algemeen hou verskeie voordele in:
  • Jou liggaam skei hormone af (soos endorfiene en serotonien) wat jou laat goed voel.
  • Dit maak jou fikser, sterker, maerder en vinniger.
  • Dit verbeter bloedsomloop, verlaag bloeddruk en versnel metabolisme.
  • Jou sensitiwiteit tot pyn verlaag (ek dink nie dit tel vir seer spiere na oefening nie).
  • Jy kan jou stres, hartseer en woede uitwerk. Regtig, probeer dit.
  • Dis te minste ‘n produktiewe uitstellingsmetode.
  • Sexy trainers, *kug* ek bedoel, dit gee jou ‘n gebalanseerde leefstyl.
As jy daaraan dink om aan te sluit, of nog ‘n beginner is wat die gim atmosfeer aanbetref, het ek wel klein bietjie raad. Jy sal dit elkgeval leer soos jy aangaan.

Hier is basiese gim etiket/raad/voorstelle:
  • Dis goeie maniere om jou sweet af te vee as jy klaar met die toerusting is.
  • Daar is eintlik nooit ‘n “goeie tyd” om te gaan oefen nie. Soggens kry jy die vreemde ou oompies in die gim en in die middag (net so na vieruur) is dit rush hour. Gaan wanneer dit jou pas.
  • Moenie te veel stres oor hoe jy lyk nie. Daar is soveel verskillende liggaamsvorme wat by ‘n gim oefen. En niemand let op nie, want hul konsentreer op hul eie roetine.
  • Dis oukei om nou en dan iets te sê aan jou pel in ‘n dansklas. Moet nou nie die hele tyd gesels nie! Dis irriterend.
  • Ek gaan gim toe om te oefen, nie om goed te lyk nie. Ja, om goed te lyk is die uiteindelike doelwit, maar ek hoef nie stylvol aan te trek vir die proses nie.
  • Jy is ook by die gim om te oefen, nie om my te probeer beïndruk nie. My 16-jarige boetie kan swaarder gewigte optel as jy, so gaan staan in die hoekie en dink na oor jou lewe.
  • As jy nie bietjie gesweet, uitasem, seer of moeg lyk nie, dan moet jy terugdraai en weer probeer of loop en nooit weer terug kom nie, want jy het duidelik nie hard genoeg geoefen nie en neem net onnodige plek op.
  • Wanneer jy sekere oefeninge doen, soos waar jou bene oop en toe of jou bekken op en af gaan, vermy oogkontak met die teenoorgestelde geslag so ver as moontlik.
  • Vir al die mense wat maer of gespierd is wil ek net sê: Jy kan maar ophou oefen! Jy’s klaar! Jy’t daai punt bereik. Laat die oefening oor aan ons wat nog daar moet uitkom.
Laastens moet jy onthou dat jy oefening doen vir jouself en vir jou eie gesondheid, nie vir iemand anders nie. Moet ook nie te hard op jouself wees nie. Om fikster en sterkter te word of gewig te verloor neem tyd. Intussen, geniet die rit!

Tuesday 10 April 2012

Ek, AfriBelg

Grootword is nie maklik nie. Daardie vreeslike gevoel wat jy ervaar na jy jou graad ontvang het, wat drie of vier jaar se swoeg en bloed sweet en trane gekos het (in my geval dan). Na 'n welverdiende vakansie besef jy jy gaan nie terug na jou kampus, daardie wydverspreide gronde wat jy so goed leerken en voor lief geword het, nie. As jy net ingekom het vir nagraadse studies... Dink net aan die geheime hoekies en kortpaaie wat jy nog kon vind, in soveel minder tyd as voorheen. Maar nou is dit verby, en jy moet koebaai sê aan jou jeugvolle tydperk en regmaak vir die Groot G. Die Grootmens Wêreld.

Gelukkig het ek ingekom vir 'n Honneurs BSc graad in Omgewingsbestuur. Nie by my universiteit nie, maar by UNISA. En ook maar goed dat dit so uitgedraai het, want dit het my die geleentheid gegee om vir my ou te gaan kuier in België. Die bosiguana het hierdie maatjie al vir meer as drie jaar, maar omdat bosiguanas nie kan vlieg nie, moet sy van 'n vliegtuig gebruik maak. So hier is ek nou, in België, vir die tweede keer, vir die afgelope vier weke, en ek geniet dit. Liefie werk bedags terwyl ek studeer. So mens kan sê ek is so tussen student-wees en volwassenheid.

Dit was moeilik om afskeid te neem van my familie en vriende, die huis en omgewing, die honde, my kat, en selfs my getroue groen karretjie. Dis al erg om vir drie maande uit jou huis te “trek”, wat nog te sê na 'n ander land. En gewoonlik wanneer 'n mens trek, het jy die opsie om meer as 23kg se klere saam met jou te neem. Drie jaar se inpakkery vir die koshuis het my goed voorberei, maar die uitdaging was steeds groot. As 'n meisie het ek klere nodig, maar nee, ek moes 'n paar goed uithaal om plek te maak vir my handboeke (wat mos so “lig” soos veertjies is). Jippie.

Gelukkig het ek die gerusstelling gehad dat ek nie weghardloop van iets, maar hardloop na iets. Na die liefde van my lewe. Stadig maar seker word die verlange huis toe minder (alhoewel ek steeds aan almal dink vir wie ek omgee) en pas ek ook aan in my nuwe omgewing. Dis die eerste keer dat ek in die lente verjaar het, wat gewoonlik in herfs geskied. Ek woon nog nie lank hier nie, maar terwyl ek hier is, kan ek nie help om die volgende gedagtes te vorm oor België nie:
  • Baie min huise hier word omring deur hoë heinings of mure, en tog voel ek veiliger hier as by my tuiste wat agter tralies loer.
  • Die publieke vervoersisteem is uiters georganiseerd en nie so gekompliseerd soos wat ek vroeër gedink het nie. Jy moet net weet waantoe jy oppad is...
  • Danksy die maklike gebruik van busse, treine en fietse, voel ek beter oor my carbon footprint.
  • Motors ry hier in die regterbaan. Let wel, “regter”, en nie “regte”, want volgens my is dit nie die “regte” kant nie! Die bestuurder sit dus aan die linkerkant van die kar, en die ratte moet deur die regterhand verander word. Ek glo nie ek gaan sommer gou my internasionale rybewys gebruik nie.
  • Die paaie in die buurte is so smal, dit voel konstant asof jy besig is met gangparkering (een goeie rede waarom ek nie hier self 'n motor wil bestuur nie).
  • Petrolpryse gaan elke eerste Woensdag van elke maand op in Suid-Afrika, maar België is 'n paar stappe voor ons wat dit aanbetref (en nóg 'n rede waarom ek eerder op die bus sal klim).
  • Ek mis nie die minibus taksies nie.
  • Jy sien die interessantse mense op busse en treine, asook op al die stasies.
  • In die winter daal temperature onder die nul grade celsius, so dis maar net “logies” om meeste vloere met teëls te bedek...
  • Die meeste Europese huise en geboue het goeie verwarmers, maar ek mis tog die geselligheid wat net 'n kaggelvuur na vore kan bring.
  • Die land is klein en plat. Meeste professionele fietsryers sal dit dus nie in die Argus maak nie, nie met die hoë heuwels en styl bulte wat dit bied nie.
  • En dan besef ek dat EK sal dit nooit in die Argus kan maak nie. Maar, danksy my gymsessies het ek beter uithouvermoë as 'n paar jaar terug. En ek is maar net té dankbaar vir die plat oppervlaktes, baie dankie.
  • Daar is twee tipe fietsryers: dié wat al geval het, en dié wat nog gaan val. Raai onder watter kategorie val ek? Ek het die bloukol om dit te bewys. En nou die dag het ek amper in 'n paal vasgery...
  • As ek besluit ek wil 'n Europese buurland besoek, moet ek net vir 'n paar ure in 'n kar of trein sit, dan is ek daar. In Suid-Afrika moet mens 'n hele dag of twee met 'n kar ry (want treine is buite die kwessie) net om van die weste na die ooste of suide na die noorde te gaan. En ons praat nie eers om van Kaapstad na Windhoek te ry nie.
  • Daar is geen grense tussen lande van die Europese Unie nie. Dalk is ek te gewoond aan die grens tussen Suid-Afrika en Namibië wat geskei word deur 'n groot rivier, aanmeldingsgeboue en wagte met gewere (grappie vir daardie laaste een). Maar tog, daar is geen lyn getrek deur 'n bordkryt waaroor jy gaan nie. Jy kom net agter dat die aanwysingsborde geleidelik na 'n ander taal oorskakel, dis al. Daar is nie eers 'n bordjie wat sê: “Terloops, jy is nou in Frankryk/Duitsland/Nederland/Waarokal”.
  • Ek mis sekere kosse, soos Steers, Spur en die goedkoop pryse van McDonald's (hier is dit so duur, dis nie die moeite werd nie). Gelukkig is hier ander lekker kossoorte om te probeer, soos fritte (fries, maar net soos die Belge dit kan doen).
  • Noudat ons oor fritte praat: gewoonlik bestel mens iets as hoofmaaltyd met chips on the side, maar in België bestel jy fritte as hoofmaaltyd met iets on the side.
  • Sjokolades en kase wat ingevoer word na Suid-Afrika is goedkoper hier.
  • Daar is geen ander manier om België se internet te beskryf nie, as: Dis flippen awesome!
  • Dis nogal cool om die Nederlandstaliges te verstaan, maar hulle kan jou nie altyd verstaan nie. Dit is wel 'n frustrasie as ek verstaan wil word en ek vergeet sommige terme of gramatikale reëls. Maar ek werk daaraan. Een van die dae sal ek met trots kan sê dat ek drietalig is.
  • Ek kan sms'e ontvang en stuur van hier af met my Suid-Afrikaanse simcard, maar ek kan dit nie doen in Namibië nie. Ek weet Namibië is onafhanklik van Suid-Afrika, maar regtig...
  • België is van die beste lande om 'n beroepsbestaan vir jouself te maak (ek weet wel nie of dit vir buitelanders geld nie).
  • Dalk is dit net ek, of net sommige ouens, maar dikwels wanneer ons uitgaan en saam om 'n tafel sit, sal 'n ou vir sy pelle, en hul meisies, biere of drankies koop, sonder om iets terug te verwag. Ek is nie van daardie tipe wat nie hul kant bring as dit by die rekening kom nie, maar dit is wel handig...
  • Ek was stomgeslaan toe ek in een van die clubs ons sokkerwêreldbeker temalied (Waka-waka) hoor, en dit het my vir oomblik laat goed voel, tot die sig van 'n dronk meisie, wat daarop gedans het, die prentjie vir my gereüneer het...
  • Die lewe is duurder hier, maar mens kan nie altyd die Euro's vergelyk met Rande nie. Die ekonomie verskil te veel.
  • Die samelewing is meer “divers” in Suid-Afrika.
  • Ek meng my Afrikaans en Nederlands so baie dat ek soms wonder van watter oorsprong die sinne of gesegdes is wat ek gebruik.
Maak nie saak waar in die wêreld jy is en hoe veilig dit gewoonlik is nie, enige Suid-Afrikaner sal altyd met sy ingebore of ingeforseerde paranoia rondgaan. Ons sal altyd op die uitkyk wees vir die tipe gevaar wat ons te veel van weet, lees en selfs ondergaan het. Dit is wel belangrik om te onthou dat alhoewel mens heelwat ooreenkomste ervaar tussen jou land en die een wat jy besoek, daar ook net soveel verskille is. Onthou waar jy vandaan kom en gebruik jou aangeleerde vaardighede, maar wees ook bereid om bietjie aan te pas. Die belangrikste natuurlik: wees jouself, selfs in 'n ander taal en kultuur.