Hoe mooi is hierdie land van ons met so ’n groot diversiteit. En hierdie Stellenbosche habitat is geen uitsondering nie. Tussen die inheemse en uitheemse plante wandel soveel individue oor die rooiplein en rus op die grasvlaktes. Aan die een kant sien mens waaghalsiges wat die Victoriapad oorsteek en aan die anderkant hardloop klomp jong eerstejaartjies. Tog te pragtig.
Ons bly inderdaad in ’n land van sonskyn, skoonheid en wild, maar ook in een met ’n hoë misdaadsyfer. Mens kan dit sien deur na enige woonbuurt op te let: elke tweede huis, indien nie elkeen nie, is omring deur mure. Die versekering wil deesdae nie meer enige skade en verlore goedere uitbetaal indien elke venster nie agter tralies is en jou tuin nie omring word deur elektriese drade of slagysters nie. En dan moet jy nog ’n “pasop vir die hond”-bordjie op jou muur hang.
Ons lewe soos diere in een groot dieretuin, ingehok en bang, en word van buite af beloer en bekyk. Terwyl ons alle boosheid probeer uitsluit, sluit ons onsself eintlik in. Tog is daar wilddiewe wat dit regkry om die ystertralies oop te buig, die hok in te gaan, en die renoster se horing te steel. Hulle voel vere vir ’n lewe. Waarom is óns diegene wat opgesluit is...
Kampus is weer soos ’n natuurreservaat: meer ruimte, meer beweging en meer natuur. Dit skep die illusie van vryheid terwyl ons onder bewaring is, alhoewel almal teen die tyd weet dat diere, selfs in ’n natuurreservaat, nie altyd beskerm kan word nie. Met onlangse gebeurtenisse in die Lettere gebou word daar beplan om elke gebou op kampus se sekuriteit te versterk sodat alle kalfies veilig hul kraal kan betree. Dis ’n goeie ding. Die enigste probleem is wanneer die moeilikheidmakers ingenooi word. As die pes eers in is, kry jy dit nie maklik uit nie. Die skade is gedoen.
Gevaar is egter nie net tot binne geboue beperk nie. Inteendeel, ’n individu loop die meeste gevaar buite, veral wanneer hul alleen in die nag rondloop. Meeste predators is nagdiere wat jag onder die maanlig en hulle gaan vir maklike teikens. Daarom is dit beter om saans in groot groepe te beweeg. Dit is wetenskaplik bewys dat groot groepe geneig is om predators te verwar. Met meer as genoeg pare oë wat uitkyk vir dinge wat nie pluis is nie, neem dit slegs een lid om die res te waarsku indien nodig. Dieselfde geld natuurlik ook vir ’n groep predators. Natuurlike seleksie en jare se ondervinding het hul geleer om saam te werk om te kry wat hul wil hê. In so ’n geval sal dit die prooi nie help om te veg nie. Vlug eerder, dit sal jou kans om te oorleef vergroot.
Sekuriteitskameras hou wel die strate dop, maar is nie altyd deeglik genoeg indien iemand uit hul dieretuinhok wil ontsnap soos The Penguins of Madagascar nie. Mens kan net só lank na jou vier kamermure staar en jou kamermaat se geselsskap waardeer.
Elkeen moet nou en dan uit hul realiteit “ontsnap” na bietjie vryheid, dit waag om die perfekte maat te soek, terwyl jy moet uitkyk vir roofdiere en karre wat oor die pad jaag wanneer jy wil oorsteek, net om terug te keer na ’n plek waar jy die sonsopkoms veilig agter tralies kan waardeer. Die hartseer is dat min individue gemaklik sou wees indien al hierdie veiligheidsmeganismes verwyder sou word. En Stellenbosch is geen uitsondering.