Sunday, 1 January 2012

'n Terugkyk op 2011

Wat ‘n jaar was 2011 nou vir jou. Alhoewel dit nie dié slegste jaar vir my was nie, was dit ook nie die wonderlikste nie. Mens kan nooit ’n perfekte jaar hê nie, maar ek is seker ek sou in ’n tonnellende depressie verval het as dit nie vir sommige mense se bystand was nie.

My jaar het begin terwyl ek steeds in België was vir die Desember vakansie. Ek het by my ou in sy land gekuier na hy ’n jaar saam met my by Stellenbosch geswot het. Dit was wonderlik om ’n wit kersfees saam met hom te spandeer, maar toe dit Januarie word, het ek geweet ek het nog net ’n klein tydjie saam met hom voor ek moes terug vlieg en hom agterlaat. Dit was nie ons eerste afskeid nie, maar dit was my eerste moeilike een vir die jaar.

Die Sondagaand voor die akademiese jaar sou begin, ry ek koshuis toe met die laaste paar goedjies sodat ek alles kan uitpak en my kan tuismaak. Dit was ’n hartseer rit, nie net omdat ek ’n huishen is wat die huis moeilik verlaat nie, maar ook omdat ek die afwesigheid van my ou sterk aangevoel het. Ons het altyd saam kampus toe gery, waar ek hom dan eerste by sy plek sou aflaai. Daarom was dit verstaanbaar dat my ingeboude GPS dit uiters vreemd en verkeerd gevind het toe ek hierdie keer direk na my koshuis afdraai.

Die volgende oggend was die eerste dag van my derde en finale jaar. Dit het sommer ordentelik sleg begin, agtuur op ‘n Maandag oggend, met Plantkunde, by een van die mees bose lektors wat ooit bestaan het. Die atmosfeer wat hy geskep het, het alle bose geeste uit enige persoon verjaag. En op daardie stadium het ons nie geweet dat hy so baie werk aan ons sou voorskryf dat mens geen tyd of energie aan ander vakke sou kon spandeer nie. Na die eerste dag waar ons ordentelik skrik gemaak is oor wat vir ons die semester voorlê, en na ek die belangrike datums in my dagboek aangeteken het, het ek geweet: ons gaan afkak. En so was dit ook...

Nog in die eerste week van klas kry ek ’n e-pos van die redaktrise van ons kampuskoerant. Sy bedank my vir die tweede rubriek wat ek vir haar gestuur het, maar hulle as redaksie het besluit dat hul nie my dienste meer nodig gaan hê nie. Die volgende dag is die koerante uitgedeel op kampus, en daar staan my plaasvervanger se rubriek. Ek was woedend en seergemaak. Toe ek die vorige jaar die nuus ontvang het dat my aansoek suksesvol was, was ek onder die indruk dat die “kontrak” ’n jaar sou duur. Ek het maar net kans gehad om een te publiseer. Die tweede een het ek getik en aangestuur, net om te hoor hul gaan dit, en my dienste verder, nie gebruik nie. Dit was volgens my hoogs onprofessioneel van die redaktrise.

Deur die semester was die enigste sonskyn in my lewe die warm geel sirkel in die somerlug. Dit was bitter warm, asof die hel waardeur ’n mens gegaan het nie genoeg was nie. Ek het saans gesukkel om te slaap. Die gewapende roof wat ek en my familie twee jaar terug deurgemaak het, het weer by my gespook. Alhoewel my familie my ondersteun het, was my eintlike steunpilaar nie fisies by my nie. Dit het ’n groot negatiewe impak op my akademie gehad, so erg dat ek vir die eerste keer getwyfel het of ek sommige vakke sou slaag. Ek het vergeet hoe om te bid en te glo. Ek het nie baie daaroor uitgepraat nie; my vriende het ook hul bekommernisse gehad, ek wou hul nie met myne belas nie.

Alles het te veel geword en ek het eindelik besluit om ’n sielkundige te gaan sien. Dit was vir my eie beswil, en dit het gehelp. My punte het klein bietjie beter geword en ek het klein bietjie meer selfvertroue begin kry.

Dit was in die laaste week van die semester, Donderdag oggend vyfuur, toe my selfoon lui. Dit was die universiteit se beskermingsdienste. Dit kon een van twee dinge wees het ek gedink: of iemand wat ek ken is in die moeilikheid, of dit het iets te doen met my kar. Inderdaad, daar was in my kar ingebreek. My arme groen gholfie, die klein driehoekglas aan die passesierskant uitgeslaan. Die radio, my lisensie, weg. Glasstukkies oral. Tot die agtersitplek was vorentoe gedruk om die emergency kit en een van die speakers uit te haal. Die donner, dis MY kar, MY besittings! My persoonlike spasie! Dit was die gewapende roof van vooraf.

In die eksamentyd kry ons die nuus dat my ma serviks kanker het en sy ’n volledige histerektomie moet ondergaan. In die begin het hierdie inligting nie by my ingesink nie. Ek het nie geweet wat om te dink nie. Het ek dit ooit met iemand bespreek, vra die sielkundige my. Met wie? Ek was daardie tyd alleen by die huis deur die dag, my ma het in die hospitaal gelê, my pa het meeste van die aande gedrink, en ek wou nie dit vir my 15-jarige broer moeiliker maak nie. Ek moes kophou met my leerwerk. Gelukkig kon die dokter alles verwyder en geen kankerselle het agter gebly nie. Groot was die verligting en dankbaarheid. Intussen het ek dit reg gekry om alles in die eerste semester te slaag. In een van die vakke het ek dit amper nie gemaak nie, maar omdat ek gereeld in die klas was, was die lektor bereid om vir my die een punt by te gee. Ek kon met ’n geruste hart vakansie hou.

Die tweede semester het honderd keer beter begin, maar ek was steeds bekommerd oor my en my ou se toekoms. Teen daardie tyd het hy al sy vliegtuigkaartjie bespreek vir Januarie, wat my gerus gestel het, want dit gee my ’n datum om na uit te sien.

Ons groot groep projek het gegaan oor erdwurms. In daardie tyd wat ons grond afgeweeg het, wurms getel het, beespattie rond gestoot het en ure in die laboratoriums spandeer het, het ek die kans gehad om met die res van my groep nuwe vriendskappe te vorm. Dit het die harde werk alles draagliker en die moeite werd gemaak. Dis net jammer dat ons so laat in ons studiejare mekaar eers leer ken het.

Hierdie keer het ek makliker punte gekry. Ek het minder toetse gedruip en besef ek weet eintlik wat ek doen. Die semester was egter nie sonder sy teleurstellings nie. My aansoek as rubriekskrywer vir die kampuskoerant was weer onsuksesvol, my aansoektoets tot die Joernalistiek program was nie goed genoeg nie, en ek het nie vir die Honneursprogram in Dierkunde ingekom nie. Ek het nie verstaan waarom dit so uitgewerk het nie, maar ek het vrede gemaak.

Ons eksamenrooster was ’n georganiseerde gemors: een vak in die eerste week, drie groot vakke in die tweede week, derde week af, en die laaste vak in die vierde week. Wie was die Einstein agter hierdie besluit? Daardie tweede week het gesorg vir slapelose nagte en kopsere.

Ten spyte van die jaar se gebeurtenisse, het ek ’n maand terug my graad gekry en trots gevoel op myself, met die Harry Potter pakkie en al, saam met my mede-Griffindors (aangesien ons fakulteit rooi bande het). Dit was wel vir my hartseer om my koshuis, my tweede tuiste van drie jaar, te verlaat. Dit was ’n skok om te weet dat ek die volgende jaar nie meer op kampus gaan wees nie. Maar die ergste was om afskeid te neem van kosbare vriende wat ek in die drie jaar gemaak het.

Nou die dag gaan speel ek en my broer pool in die mall. Ek sit my handsak op ’n plek neer sodat ek gemakliker kan speel. Na ’n paar rondtes gaan speel ons iets anders. Na tien minute kom ek agter dat ek vergeet het om my sak te vat. Toe ek by die pooltafel aankom, was dit weg. My maag en my keel het plekke omgeruil, waar kon dit wees? Ek vra die bestuurder van die plek of iemand dit dalk nie ingegee het nie. Hy verwys my na die kamerakamer waar ons toe ’n prentjie kry van twee jong meisies wat dit gevat het. Gelukkig was hulle nog in die rondte toe my broer hul gaan soek, maar die sak was nie meer by hulle nie. Eers ontken hul dat hul weet van die handsak. Na hul die kamerabeeld gesien het, vertel hul ’n ander storie, dat hul dit opgetel het, die eienaar gesoek het in die badkamers, en dit weer op die plek gaan sit het. Die kamerabeeld het die teendeel bewys. Toe vertel hul skielik hul “dink” hul het dit in die badkamers vergeet. Vergeet? Regtig? Elk geval, lang storie kort, na ’n lang gesukkel, was alles in dieselfde badkamer gevind: my sak agter die een sanitêre drom, en my selfoon en beursie in ander twee verskillende dromme. Ja, presies, BINNE! Euw, gross. Ek het amper moed verloor, gedink ek gaan nooit my goed terugkry nie. Al daai gevoelens van mense wat nie ander se besittings respekteer nie, jou persoonlike spasie wat aangetas word. As dit nie vir my broer en die sekuriteitswagte se vasberadenheid was nie, het ek dit nie gehou nie.

In 2011 het ek geleer dat goeie vriende nie sal weghol as jy jou vrese en bekommernisse met hul wil deel nie. Dis oukei om nie altyd sterk te wees nie. Ek vergeet soms dat ek werklik instaat is om sommige dinge te doen. Ek het ook geleer dat almal huil, al weet mens nie daarvan nie. En daar is mense wat sukkel met dieselfde goed as jy, meer as wat mens dink. Ek is definitief nie spyt dat die jaar tot ’n einde gekom het nie, maar soos ek sê, as dit nie vir familie, my ou, en vriende (die oues en die nuwes) was nie, was ek lankal ingeboek in een van die groendakkie huise.

My voornemings vir 2012? Om eerlik te wees, ek het geen idee nie. Ek het ’n hele paar opsies wat ek nog oorweeg. Ek wil myself besig hou met konstruktiewe dinge, dinge wat ek al lank wou doen, maar nooit voor tyd gehad het nie omdat ek net moes oorleef en studeer, en asemhaal. Ek gaan na myself kyk vir ’n slag, ’n mens word, want studente is nie mense nie. Op hierdie oomblik dink ek egter net aan my ou wat oor twee weke kom kuier...

Gelukkige nuwe jaar! Mag hierdie een beter wees as die vorige. Kyk mooi na julself.