Februarie, die maand van liefde. Dis al wat mens hoor en lees. Wit
beertjies, rooi hartjies, pienk lekkergoed, sjokolade, wit beertjies met rooi
hartjies, en nog baie meer word in mens se gesig gevryf deur advertensies.
Valentynsdag is oppad. Vir die alleenlopers, asook mense in verhoudings wat nie
hul geliefdes naby het nie, is dit moeilik om ‘n verliefde paartjie te sien
sonder die drang om hul ‘n paar klappe te gee. Hoe durf hulle hul vreugde oop
en bloot uitstal voor jou? Kan Romeo en Juliet nie doen wat Shakespeare
voorgeskryf het, en net sterf nie?!
Nietemin, ek het onlangs geleer om nie te ernstig te reageer op
Valentynsdag nie. Mens moet vir jou maat regdeur die jaar liefde wys, nie net
op een dag per jaar nie. Ek moet wel erken dat groepsdruk deur die
internasionale publiek my laat voel dat ek iets spesiaals moet doen vir my
wederhelfde, of te minste my vriende...
Wat sou die wêreld gewees het sonder liefde en verliefdheid? Dit is een
van die natuurlikste en sterkste emosies. Moeilik om met een woord te beskryf,
maar soveel dade wat dit kan bewys. Selfs in die diereruim word liefdevolle
aksies waargeneem, al word daar getwyfel aan die bestaan van diere se
emosionele intelligensie.
Hier beskryf ek ‘n paar mense se dierlike liefdeswyse, ek bedoel, diere
se menslike liefdeswyse. Daar is natuurlik duisende voorbeelde, maar ek dink
hierdie is ‘n paar goeies waarvan mense kan leer, en waarskynlik al geleer het.
Malagasy Reuse
Rot (“Malagasy Giant Rat”)
Hierdie oorgroot rotte met lang ore, endemies aan Madagaskar, is van die
min knaagdiere wat monogamie toepas. Die mannetjies bereik seksuele
volwassenheid binne ‘n jaar, so van ‘n vroeë ouderdom het hul heelwat seksuele
gedagtes (dink net aan meeste tienerseuns), alhoewel hul nie iets sal probeer
tot hul meer volwasse is by die ouderdom van 1.5 tot 2 jaar nie (soos slim
tieners dit sou doen). Wyfies neem 2 jaar om seksueel reg te wees vir ‘n maat. ‘n
Paartjie sal bymekaar bly en kinders grootmaak, letterlik “tot die dood hul
skei”. Mannetjies is tipies oorbeskermende pa’s wat hul lewe sal waag om hul
kinders te beskerm. Wanneer ‘n maat tot sterwe kom, sal die wyfie tuis bly tot ‘n
nuwe potensiële maat na vore kom. Die mannetjie doen gewoonlik dieselfde, maar
sal soms na ‘n nuwe tuiste by ‘n weduwee intrek. ‘n Meer volmaakte en opregte
maat as dít gaan jy nie opspoor nie.
Olifant
Gedurende die hofmakery periode word bulle so lovesick dat hul ophou eet. Die koeie hou meer kop, aangesien hul
leierskap moet neem in ‘n trop of familie. Hul is kieskeurig met hul maats en
wag 4 jaar om te paar. Hul vat nie net sommer enigeen nie...
Sjimpansee
Hierdie primate verkies korttermyn verhoudings bo ‘n lewenslange
verbintenis. Hul flikflooi met mekaar, deel soentjies uit, baklei en maak op na
die tyd. Klink dit bekend? Baie mense sal hulself in hierdie kategorie kan
herken, aangesien mens en sjimpansee se gene 96% ooreenstem.
Grawende kewer
(“Burying beetle”)
Beskou die kewers as die laeklas van die diereryk. Hul begrawe reste van
dooie klein diertjies om later te gebruik as voedsel. Grawende kewers word
lewensmaats wat saam na hul kleingoed omsien, selfs na hul uitgebroei het. Geen
glansryke lewe vir hierdie goggas nie, en tog vorm hul ‘n hegte familie.
Bowervoël (“Bowerbirds”)
Geld kan nie liefde koop in diere se geval nie, maar duur eiendomme kan.
Hierdie voëls, waarvan ‘n paar spesies endemies aan Australië is, is bekend vir
hul buitengewone nes-agtige strukture. Die mannetjie bou en versier die
struktuur (bower) met stokkies, mos
en ander voorwerpe. Sommige van hulle gebruik selfs opgekoude bessies om die “mure”
te verf om potensiële lewenslange maats te lok. Die vroutjies deursoek alle
huisies (waarskynlik met ‘n snawel-in-die-lug-houding) en sal die mooiste een
kies wat vir hul geskik is om ‘n nessie te bou. Elke jaar sal hul terugkom na
dieselfde huisie.
Keiserpikkewyn
Almal lyk en tree dalk dieselfde op, maar daar is altyd iemand wat
uitstaan in die groep. Keiserpikkewyne kan ‘n geskikte maat uitken wat een uit ‘n
duisend is. Tydens die broeiseisoen moet keiserpikkewyne vir maande lank sonder
mekaar klaarkom. Pappa hou vir kleintjie in die eier warm, terwyl mamma
inkopies moet gaan doen vir die familie (iemand moet sorg vir kos). Hul liefde
mag dalk net een seisoen lank wees, maar dit verduur alles, selfs afstand. Gedink
jy is die enigste wat in ‘n langafstand verhouding is? Niks is verlore nie.
Onthou, pikkewyne kan nie na mekaar vlieg wanneer die afstand te veel word nie,
en hul het nie iets soos telefone nie...
Titi aap
Daar is bitter min van hierdie Suid-Amerikaanse ape wat nie lewenslange
bande met hul maats sal vorm nie. In teenstelling met meeste ander primate, skrik
hegte verbintenisse hul nie af nie. Hul wys hul liefde vir mekaar deur saam op ‘n
boomtak te slaap en hou hande vas deur hul sterte wat verstrengel raak.
“White-Fronted”
Papegaai
Hierdie kleurvolle Meksikaanse papegaaie is bekend daarvoor om hul
gevoelens vir mekaar op die uitgebreide manier ten toon te stel, byvoorbeeld
deur oopbek soene. Hul vorm lewenslange bande en maak saam hul kleintjies groot.
Soos baie mense, sal sommige papegaaie sterf kort na hul maat se dood (dus ‘n
bewys dat diere ook rou).
Swart renoster
Swart
renosters neem lank om seksueel volwasse te word. Vir bulle neem dit 7 tot 8
jaar en koeie 5 tot 7 jaar; dis nou te sê as wilddiewe hul nie voor dit in die
hande kry nie. Hul is van nature alleenlopers en kom net bymekaar om voort te
plant. Tog maak koeie dit nie maklik vir bulle nie. In die paarseisoen merk
koeie hul mishopies en die eerste bul wat dit vind volg die leidraad. Hy trap
en versprei elke hopie sodat dit moeilik vir die volgende bul is om die reuk te
volg. Die paartjie sal vir ‘n paar dae uitgaan, met mekaar paar, en weer hul
eie gang gaan. Dan sit mamma met die baba... As jy soek vir ‘n langtermyn
verhouding, is hierdie nie die soort vir jou nie.
Buffel
‘n Buffel se
liefdeslewe kan vergelyk word met hoërskool. Koeie is geneig om baie aandag te
trek wanneer hul vatbaar is, en tog speel hul hard to get. ‘n Bul sal die spesifieke koei bewaak en ander bulle
weghou wat ‘n kans met haar probeer vat. Aan die einde is dit die mees
dominante bul wat haar kry. Sodra die koei egter swanger is, is sy op haar eie.
Gelukkig is die trop (familie) altyd daar om te help en die kalf te beskerm.
Leeu
Ondanks hoe
mooi die fliek The Lion King was, is
die liefdeslewe daarin ongelukkig nie realiteit nie. In die werklikheid is
leeus poligamies; ‘n trop bestaan hoofsaaklik uit wyfies met een of twee
mannetjies wat met ALMAL paar. Wyfies doen alles vir die trop: jag vir kos, pas
kinders op, bad kinders, leer kinders, speel met kinders, gee liefde aan
mannetjie, maak huis skoon en was skottelgoed. Daarteen sal mannetjies omtrent
net slaap, TV kyk met ‘n koue bier en seuns uit die huis uit skop wanneer hul
oud genoeg is. Selfs wanneer wyfies kos aandra, sal die mannetjie eerste eet.
Hul sal die kos wel eerder met die welpies deel as met die wyfies. Moet dus nie
‘n familie met hierdie soort begin as jy nie kans sien vir dít nie.
Luiperd
Luiperds is
alleenlopers, en hulle is oukei daarmee. Mannetjies merk hul gebiede wat ander
mannetjies nie durf waag oorsteek nie, alhoewel dit mag oorkruis met wyfies se
woonareas. ‘n Mannetjie en wyfie se verhouding is soos vriende met voordele;
hul spandeer soms tyd met mekaar, maar verwag nie ewige verbintenisse van
mekaar nie. Indien ‘n wyfie swanger word, sorg sy alleen vir haar kleintjies.
Sy het geweet waarvoor sy haar inlaat.
Waar jy ookal
inpas, ek hoop jy kry ‘n maat wat jou behoeftes en begeertes verstaan en vervul.
Wys jou wederhelfde jy gee om, selfs al neem jy nie 14 Februarie ernstig op
nie. En moenie van jou familie en vriende vergeet nie. Vertel hulle hoe baie jy
hulle waardeer. Die liefde is nie net vir Romeos en Juliets nie.
Gelukkige
Valentynsdag.