Tuesday, 10 April 2012

Ek, AfriBelg

Grootword is nie maklik nie. Daardie vreeslike gevoel wat jy ervaar na jy jou graad ontvang het, wat drie of vier jaar se swoeg en bloed sweet en trane gekos het (in my geval dan). Na 'n welverdiende vakansie besef jy jy gaan nie terug na jou kampus, daardie wydverspreide gronde wat jy so goed leerken en voor lief geword het, nie. As jy net ingekom het vir nagraadse studies... Dink net aan die geheime hoekies en kortpaaie wat jy nog kon vind, in soveel minder tyd as voorheen. Maar nou is dit verby, en jy moet koebaai sê aan jou jeugvolle tydperk en regmaak vir die Groot G. Die Grootmens Wêreld.

Gelukkig het ek ingekom vir 'n Honneurs BSc graad in Omgewingsbestuur. Nie by my universiteit nie, maar by UNISA. En ook maar goed dat dit so uitgedraai het, want dit het my die geleentheid gegee om vir my ou te gaan kuier in België. Die bosiguana het hierdie maatjie al vir meer as drie jaar, maar omdat bosiguanas nie kan vlieg nie, moet sy van 'n vliegtuig gebruik maak. So hier is ek nou, in België, vir die tweede keer, vir die afgelope vier weke, en ek geniet dit. Liefie werk bedags terwyl ek studeer. So mens kan sê ek is so tussen student-wees en volwassenheid.

Dit was moeilik om afskeid te neem van my familie en vriende, die huis en omgewing, die honde, my kat, en selfs my getroue groen karretjie. Dis al erg om vir drie maande uit jou huis te “trek”, wat nog te sê na 'n ander land. En gewoonlik wanneer 'n mens trek, het jy die opsie om meer as 23kg se klere saam met jou te neem. Drie jaar se inpakkery vir die koshuis het my goed voorberei, maar die uitdaging was steeds groot. As 'n meisie het ek klere nodig, maar nee, ek moes 'n paar goed uithaal om plek te maak vir my handboeke (wat mos so “lig” soos veertjies is). Jippie.

Gelukkig het ek die gerusstelling gehad dat ek nie weghardloop van iets, maar hardloop na iets. Na die liefde van my lewe. Stadig maar seker word die verlange huis toe minder (alhoewel ek steeds aan almal dink vir wie ek omgee) en pas ek ook aan in my nuwe omgewing. Dis die eerste keer dat ek in die lente verjaar het, wat gewoonlik in herfs geskied. Ek woon nog nie lank hier nie, maar terwyl ek hier is, kan ek nie help om die volgende gedagtes te vorm oor België nie:
  • Baie min huise hier word omring deur hoë heinings of mure, en tog voel ek veiliger hier as by my tuiste wat agter tralies loer.
  • Die publieke vervoersisteem is uiters georganiseerd en nie so gekompliseerd soos wat ek vroeër gedink het nie. Jy moet net weet waantoe jy oppad is...
  • Danksy die maklike gebruik van busse, treine en fietse, voel ek beter oor my carbon footprint.
  • Motors ry hier in die regterbaan. Let wel, “regter”, en nie “regte”, want volgens my is dit nie die “regte” kant nie! Die bestuurder sit dus aan die linkerkant van die kar, en die ratte moet deur die regterhand verander word. Ek glo nie ek gaan sommer gou my internasionale rybewys gebruik nie.
  • Die paaie in die buurte is so smal, dit voel konstant asof jy besig is met gangparkering (een goeie rede waarom ek nie hier self 'n motor wil bestuur nie).
  • Petrolpryse gaan elke eerste Woensdag van elke maand op in Suid-Afrika, maar België is 'n paar stappe voor ons wat dit aanbetref (en nóg 'n rede waarom ek eerder op die bus sal klim).
  • Ek mis nie die minibus taksies nie.
  • Jy sien die interessantse mense op busse en treine, asook op al die stasies.
  • In die winter daal temperature onder die nul grade celsius, so dis maar net “logies” om meeste vloere met teëls te bedek...
  • Die meeste Europese huise en geboue het goeie verwarmers, maar ek mis tog die geselligheid wat net 'n kaggelvuur na vore kan bring.
  • Die land is klein en plat. Meeste professionele fietsryers sal dit dus nie in die Argus maak nie, nie met die hoë heuwels en styl bulte wat dit bied nie.
  • En dan besef ek dat EK sal dit nooit in die Argus kan maak nie. Maar, danksy my gymsessies het ek beter uithouvermoë as 'n paar jaar terug. En ek is maar net té dankbaar vir die plat oppervlaktes, baie dankie.
  • Daar is twee tipe fietsryers: dié wat al geval het, en dié wat nog gaan val. Raai onder watter kategorie val ek? Ek het die bloukol om dit te bewys. En nou die dag het ek amper in 'n paal vasgery...
  • As ek besluit ek wil 'n Europese buurland besoek, moet ek net vir 'n paar ure in 'n kar of trein sit, dan is ek daar. In Suid-Afrika moet mens 'n hele dag of twee met 'n kar ry (want treine is buite die kwessie) net om van die weste na die ooste of suide na die noorde te gaan. En ons praat nie eers om van Kaapstad na Windhoek te ry nie.
  • Daar is geen grense tussen lande van die Europese Unie nie. Dalk is ek te gewoond aan die grens tussen Suid-Afrika en Namibië wat geskei word deur 'n groot rivier, aanmeldingsgeboue en wagte met gewere (grappie vir daardie laaste een). Maar tog, daar is geen lyn getrek deur 'n bordkryt waaroor jy gaan nie. Jy kom net agter dat die aanwysingsborde geleidelik na 'n ander taal oorskakel, dis al. Daar is nie eers 'n bordjie wat sê: “Terloops, jy is nou in Frankryk/Duitsland/Nederland/Waarokal”.
  • Ek mis sekere kosse, soos Steers, Spur en die goedkoop pryse van McDonald's (hier is dit so duur, dis nie die moeite werd nie). Gelukkig is hier ander lekker kossoorte om te probeer, soos fritte (fries, maar net soos die Belge dit kan doen).
  • Noudat ons oor fritte praat: gewoonlik bestel mens iets as hoofmaaltyd met chips on the side, maar in België bestel jy fritte as hoofmaaltyd met iets on the side.
  • Sjokolades en kase wat ingevoer word na Suid-Afrika is goedkoper hier.
  • Daar is geen ander manier om België se internet te beskryf nie, as: Dis flippen awesome!
  • Dis nogal cool om die Nederlandstaliges te verstaan, maar hulle kan jou nie altyd verstaan nie. Dit is wel 'n frustrasie as ek verstaan wil word en ek vergeet sommige terme of gramatikale reëls. Maar ek werk daaraan. Een van die dae sal ek met trots kan sê dat ek drietalig is.
  • Ek kan sms'e ontvang en stuur van hier af met my Suid-Afrikaanse simcard, maar ek kan dit nie doen in Namibië nie. Ek weet Namibië is onafhanklik van Suid-Afrika, maar regtig...
  • België is van die beste lande om 'n beroepsbestaan vir jouself te maak (ek weet wel nie of dit vir buitelanders geld nie).
  • Dalk is dit net ek, of net sommige ouens, maar dikwels wanneer ons uitgaan en saam om 'n tafel sit, sal 'n ou vir sy pelle, en hul meisies, biere of drankies koop, sonder om iets terug te verwag. Ek is nie van daardie tipe wat nie hul kant bring as dit by die rekening kom nie, maar dit is wel handig...
  • Ek was stomgeslaan toe ek in een van die clubs ons sokkerwêreldbeker temalied (Waka-waka) hoor, en dit het my vir oomblik laat goed voel, tot die sig van 'n dronk meisie, wat daarop gedans het, die prentjie vir my gereüneer het...
  • Die lewe is duurder hier, maar mens kan nie altyd die Euro's vergelyk met Rande nie. Die ekonomie verskil te veel.
  • Die samelewing is meer “divers” in Suid-Afrika.
  • Ek meng my Afrikaans en Nederlands so baie dat ek soms wonder van watter oorsprong die sinne of gesegdes is wat ek gebruik.
Maak nie saak waar in die wêreld jy is en hoe veilig dit gewoonlik is nie, enige Suid-Afrikaner sal altyd met sy ingebore of ingeforseerde paranoia rondgaan. Ons sal altyd op die uitkyk wees vir die tipe gevaar wat ons te veel van weet, lees en selfs ondergaan het. Dit is wel belangrik om te onthou dat alhoewel mens heelwat ooreenkomste ervaar tussen jou land en die een wat jy besoek, daar ook net soveel verskille is. Onthou waar jy vandaan kom en gebruik jou aangeleerde vaardighede, maar wees ook bereid om bietjie aan te pas. Die belangrikste natuurlik: wees jouself, selfs in 'n ander taal en kultuur.