2012: Wat 'n vreemde jaar, dis al wat ek kan sê. Dit was nie die slegste jaar nie, maar ook nie die beste nie. Dit was net doodgewoon vreemd. Of dit te make gehad het met die feit dat die wêreld veronderstel was om te vergaan, weet ek nie. Maar die aarde draai nog, net soos verlede jaar, en die jaar voor dit en twee jaar voor dit... Volgens Wikipedia moes die wêreld 634 BC al vergaan het, en alhoewel heelwat spesies al uitgesterf het, staan ons nog hier, die boonste punt van die voedselketting, die "top-spesie".
Net omdat meer natuurrampe, soos Hurricane Sandy en Typhoon Bopha, die rondte doen op moeder aarde, beteken nie sy is besig om te vergaan nie. Natuurrampe is soos verkoue: dis iets wat soms gebeur. Ek praat dit nie goed nie, maar as jy nie voorsorg tref nie, gaan jou gesondheid agteruit gaan (sê ek wat veilig weg van al daardie "winde" is). Ons moes voorsorg getref het met globale verhitting, maar sommige mense wil mos nie luister nie...
Hierdie jaar was die jaar van die Olimpiese Spele in Londen (ons swemmers en paralimpiese atlete het soos altyd nie teleurgestel nie), Curiosity wat voorwaarts mars suksesvol op Mars geland het, Whitney Houston en Neil Armstrong wat oorlede is (moet hom tog nie met Lance Armstrong verwar nie), die SOPA (Stop Online Piracy Act) debat, die KONY 2012 video wat die rondte gedoen het, Prins William en Kate wat hul eersteling verwag, en twee swart presidente wat vir 'n tweede termyn aangestel is (waarvan een 'n soveelste vrou ingewerp het). En moenie vergeet van Riaan Cruywagen wat, na jare op TV en nuus, afgetree het. Daar is Afrikaans finaal in sy tjops in wat die SAUK aanbetref. Een van die min dinge/mense wat konstant gebly het, ons Afrikaans-sprekendes veilig laat voel het, is weg.
Daar was ander gebeurtenisse wat my laat voel het die wêreld kan maar eindig. Dit was vir almal 'n skok toe Lance Armstrong van al sy Tour de France medaljes gestroop is as gevolg van sy gebruik van prestasie-verbeteringsdwelms (weereens, moet hóm nou nie verwar met Neil Armstrong nie). Vir jare het hy ons mislei as die beste fietsryer ter wêreld. Dan is daar Uganda wat met alle geweld hul Kill the Gays Bill wil laat aanvaar.
In Indië is 'n 23-jarige meisie dood in die hospitaal nadat sy deur ses mans op 'n bus vir 'n uur lank verkrag en aangerand is. In 'n ander saak het 'n 17-jarige meise selfmoord gepleeg nadat sy ook verkrag is deur 'n groep mans, maar in plaas daarvan dat die polisie haar help, dwing hul haar om die saak terug te trek teen vergoeding, of om een van haar aanvallers te trou. Wat de hel is die polisie se probleem?!
Marikana en die stakings wat daarna gevolg het in ander sektore van die land, het nie Suid-Afrika te goed laat lyk nie. Ek verstaan die wil vir staak, maar waarom moet soveel onskuldige mense vermoor word en verwoesting gesaai word in die proses... Ook onlangs het 'n groep drommels in 'n Amerikaanse skool ingevaar en talle kinders en onderwysers dood geskiet.
Het julle geweet Lonesome George is ook hierdie jaar dood? Ek nie. Weet julle wie hy was? Ek ook nie, so ek het gaan opsoek. Hy was die laaste individu van die Pinta Eiland skilpad subspesies. Hierdie subspesie het dus amptelik uitgesterf hierdie jaar. Wie weet hoeveel ander spesies het hierdie jaar en gaan nog binnekort uitgewis wees. Hierdie jaar is daar reeds 633 renosters gestroop in Suid-Afrika.
'n Oomblik van stilte vir die almal wat hierdie jaar oorlede is: die stakers wat dit nie verdien het nie, dié wat vermoor is deur stakers, die volwassenes, die kinders, mense van ontwikkelde en ontwikkelende lande (al is hul nie nuuswaardig nie), mense wat ons geken en nie geken het nie, en alle diere.
Hierdie jaar het wel ook tot nuwe insigte gelei. Kanada het alle verbindinge met Iran verbreek omdat hul nie saamstem met hul ondersteuning vir die Siriese regering en hul skending van menseregte nie. 'n Baas van 'n renoster-sindikaat het 40-jaar tronkstraf gekry. Indië staak omdat hul gatvol is vir verkragters wat wegkom met alles. Die hele wêreld is in opstand. Meer en meer mense val nie net meer vir enige iets nie. Meer mense het tot nuwe insigte gekom, waar ander nie.
My jaar was self 'n rollercoaster. My jaar het afgeskop met 'n drie maande verblyf in België, en met my terugkoms het my eks met my opgebreek na 'n verhouding van 3.5 jaar. Waarom? Want hy het een oggend opgestaan en besef hy voel niks meer vir my nie. En ja, ek is seker daar was nie 'n derde party nie, ingeval jul wonder.
My laptop het nie meer so lekker gewerk nie, toe stuur ek dit in om reg te maak, net om 'n "stukkender" een terug te kry. Na 'n paar ander IT ouens dit nie kon regmaak nie, stuur ek dit toe vir ons versekering om dit reg te maak of 'n nuwe een te gee. Hiep hiep hoera, op een of ander wonderwerklike manier kry hul dit aan die gang, hul sal dit by my kom aflewer. Die dag kom, maar hul lewer nie af nie. Ek hoor toe dat die kar waarin hul als vervoer, is gehijack. En raai wie se laptop was ook in die kar? Jip, myne. Hiep hiep hoera...
Ek het darem ook tot 'n paar nuwe insigte gekom. Ek kon 4 jaar saam met 'n goeie ou gevier het, maar in plaas daarvan het ek geleer dat ek kan volgroeid en lief wees vir myself sonder dat iemand anders my eers moet liefhê. Ek het volhard in 'n langafstandverhouding, so ek kan enige verhouding in die toekoms aanpak, maak nie saak watter moeilikhede voorkom nie. Ek is sterker as wat ek gedink het, ek sal hierdeur kom net soos baie ander mense al het. My eks sal altyd 'n plekkie in my hart hê, maar dit sal nie meer die meeste plek inneem nie. Ek het wonderlike familie en vriende wat my ondersteun wie ek nooit hoef te wantrou nie. En ek het 'n nuwe laptop gekry!
Daar is soveel nuwe goed wat ek geleer en aangepak het hierdie jaar. Ek het 'n bloedskenker geword, met klawerbordlesse begin en selfverdedigingklasse. Ek het ook my eerste vakansiewerk gedoen.
My enigste nuwejaarsvoornemings is om gewig te verloor, goed te doen in my studies soos ek hierdie jaar het (ten spyte van alles wat ek deur is) en om weer te begin dans (ek mis dit verskriklik). Dis al wat werk verrig. Die res moet vanself kom anders kan mens dit net sowel los. Volgende jaar is die jaar van die slang, my jaar, so ek gaan na myself kyk en my beste doen in alles wat ek aanpak. Probeer als en behou die goeie. Ek is oop vir enige iets, selfs Gangam Style!
2013, ek is reg vir jou!