‘n Paar maande terug kon
ek sê dat ek langer uit die land was as in my tuisland. Na my drie maande
besoek in België was dit skaars twee weke voor ons na Namibië vertrek het vir drie
weke se vakansie. Vir my was dit egter drie weke van ontkenning, hartseer en
teleurstelling. Sien, ek was besig om te rou na ‘n liefdesteleurstelling ‘n 3.5
jaar lange verhouding beëindig het. Tussen dit en studies was dit maar moeilik
om ‘n pen vas te hou, wat nog te sê pen op papier sit...
Daarom bestaan die lang pouse
op my skryfwerk. Nietemin, my hart is nou besig met rehabilitasie en dit pyn (letterlik)
nie meer so baie nie. Dit is ook te danke aan my familie en vriende se
ondersteuning. Dit voel goed om weer terug in ‘n roetine te wees in ‘n plek wat
jy ken.
Een van hierdie
daaglikse roetines, wat ek bly is om weer van deel te wees, is om na die gim te
gaan. Vir ons huisdiere wat nie veel uitkom nie is dit maar die manier om by te
bly met jou fiksheid. Verlede jaar het ons klas berge geklim, op begrafplase
rond geloop, in riviere geswem, deur riete gekruip, en na eksamenlokale
gehardloop. Nou bly ek tuis en beweeg meestal tussen my kamer, badkamer en
kombuis. Artikels lees is my sport.
Gim is natuurlik nie vir
almal nie, maar oefening oor die algemeen hou verskeie voordele in:
- Jou liggaam skei hormone af (soos endorfiene en serotonien) wat jou laat goed voel.
- Dit maak jou fikser, sterker, maerder en vinniger.
- Dit verbeter bloedsomloop, verlaag bloeddruk en versnel metabolisme.
- Jou sensitiwiteit tot pyn verlaag (ek dink nie dit tel vir seer spiere na oefening nie).
- Jy kan jou stres, hartseer en woede uitwerk. Regtig, probeer dit.
- Dis te minste ‘n produktiewe uitstellingsmetode.
- Sexy trainers, *kug* ek bedoel, dit gee jou ‘n gebalanseerde leefstyl.
As jy daaraan dink om
aan te sluit, of nog ‘n beginner is wat die gim atmosfeer aanbetref, het ek wel
klein bietjie raad. Jy sal dit elkgeval leer soos jy aangaan.
Hier is basiese gim
etiket/raad/voorstelle:
- Dis goeie maniere om jou sweet af te vee as jy klaar met die toerusting is.
- Daar is eintlik nooit ‘n “goeie tyd” om te gaan oefen nie. Soggens kry jy die vreemde ou oompies in die gim en in die middag (net so na vieruur) is dit rush hour. Gaan wanneer dit jou pas.
- Moenie te veel stres oor hoe jy lyk nie. Daar is soveel verskillende liggaamsvorme wat by ‘n gim oefen. En niemand let op nie, want hul konsentreer op hul eie roetine.
- Dis oukei om nou en dan iets te sê aan jou pel in ‘n dansklas. Moet nou nie die hele tyd gesels nie! Dis irriterend.
- Ek gaan gim toe om te oefen, nie om goed te lyk nie. Ja, om goed te lyk is die uiteindelike doelwit, maar ek hoef nie stylvol aan te trek vir die proses nie.
- Jy is ook by die gim om te oefen, nie om my te probeer beïndruk nie. My 16-jarige boetie kan swaarder gewigte optel as jy, so gaan staan in die hoekie en dink na oor jou lewe.
- As jy nie bietjie gesweet, uitasem, seer of moeg lyk nie, dan moet jy terugdraai en weer probeer of loop en nooit weer terug kom nie, want jy het duidelik nie hard genoeg geoefen nie en neem net onnodige plek op.
- Wanneer jy sekere oefeninge doen, soos waar jou bene oop en toe of jou bekken op en af gaan, vermy oogkontak met die teenoorgestelde geslag so ver as moontlik.
- Vir al die mense wat maer of gespierd is wil ek net sê: Jy kan maar ophou oefen! Jy’s klaar! Jy’t daai punt bereik. Laat die oefening oor aan ons wat nog daar moet uitkom.
Laastens moet jy onthou
dat jy oefening doen vir jouself en vir jou eie gesondheid, nie vir iemand
anders nie. Moet ook nie te hard op jouself wees nie. Om fikster en sterkter te
word of gewig te verloor neem tyd. Intussen, geniet die rit!
No comments:
Post a Comment
Los gerus 'n boodskappie :-)