Dis nou amper 3 jaar wat ek ‘n bestuurslisensie het. Wanneer mens eindelik alleen mag rondry, kom mens vir die eerste keer agter hoeveel motoriste kan eintlik nie bestuur nie. Dink bietjie daaraan: hoeveel keer het jy al gedink “Waar het hierdie mens sy lisensie gekoop? Kyk net hoe ry hy!” of “Ry magtag, die lig is lankal groen!” of my gunsteling “Jy ry 60 op ‘n 100km/h sone. Links met jou!”. Let daarop dat hierdie kommentare ook ongesensorde weergawes het.
My eerste karretjie, wat ek steeds gebruik, is ’n ou Chico Gholfie. Ek was vroeër skepties om my ma se kar oor te neem. ‘n Gholf is nie een van die mooiste motors op die pad nie, en hierdie een se kleur was nie my eerste keuse nie. Maar ek is nog jonk en nuut op die pad, het ek later gedink. Ek sal waarskynlik nog hier en daar stampe maak (dis iets waaroor ek nie praat nie), so ek kan dit net sowel met ’n ouer kar doen. Dit het my ’n tydjie geneem om aan die pedale gewoond te word, maar na so ’n week het my voete dit uitgewerk. Van toe af het ek geen ander karre begeer nie, meestal omdat ek nie met enige kar behalwe ’n Gholf kan ry nie! Die oomblik as ek agter ’n ander motor se stuurwiel klim, voel dit asof ek met elke rem deur die voorruit wil vlieg, so sensitief is die goed... Nog ’n rede om altyd jou veiligheidsgordel aan te sit.
Ek sien baie studente op kampus wat rondry met hul BMW’s (Blik Met Wiele). Hul het hierdie “Bankrot Maar Windgat” houdings en glo hul kan ry soos dit hul pas, want mamma en pappa is ryk en hulle sal sorg vir my, so ek hoef nie my goed op te pas nie. Natuurlik is hierdie net ’n veralgemening, maar om eerlik te wees, ek sien nie altyd ’n verskil in die volwassenes met BMW’s se gedrag nie.
Nou die dag sien ek een van hierdie nuwe Mini Cooper modelle, en die nommerplaat lees “Thnx Dad”. Nou wonder ek as hierdie persoon skielik hierdie kar met ’n goedkoop skedonk moes vervang, dat die familie byvoorbeeld die Cooper verkoop om dringend geld te kry, sou daardie persoon die nommerplaat behou? Dan sal dit meer sarkasties gelees word: “Thanks dad”.
Die Gholf is volgens my mening een van die beste motors wat bestaan, en dis my redes:
- Dis van die goedkoopste karre om te koop.
- Dis een van die beste studentekarre.
- ’n Gholf se versekering is hoër as dié van ’n Jeep; dis eintlik hoër as enige motor se versekering.
- Die Gholf kan ook, soos ‘n 4x4, oor sypaadjies klim en die bodem skuur nie as dit oor ’n drempel gaan nie, soos in die geval van “lae motors”.
- Dit het wel nie kragstuur nie, maar dit gee mens kans om armoefeninge te doen by draaie en parkeerplekke.
- Mens verloor nie so maklik beheer oor die stuurwiel nie, selfs al waai die wind erg oor die pad.
- Dit kan net so vinnig, indien nie vinniger nie, as enige ander tipe motor gaan.
- ’n Gholf kan maklik 10 mense inprop, en die gewig dra...
- Aangesien Gholfproduksie gestaak is, sal daar oor die jare minder en minder van dit voorkom. Met ander woorde, ek besit ’n potensiële “collectable”!
Vir ’n kar wat meer as 120 000km afgelê het, ouer as ’n dekade is en ’n paar stampe en stote ervaar het, lyk my ou karretjie nog goed. Nog nooit het my Gholf my in die middel van nêrens langs die pad laat staan nie. Die een keer toe dit nie wou aanskakel nie, was ek darem by ‘n inkopiesentrum, helder oor dag. Ek kom altyd by my bestemming uit. Ek hoop dat ek te minste nog 100 000km met hierdie kar kan deurmaak. My leuse is respekteer jou kar, en die kar sal jou respekteer. Mens kan gerus van nou af met nuwe oë na ’n Gholf kyk.
No comments:
Post a Comment
Los gerus 'n boodskappie :-)