Tuesday, 14 June 2011

Waar daar 'n Rokie is...

My enigste vorm van oefening is wanneer ek klas toe loop, of in die uiterste gevalle as ek laat is, snelloop. Klas toe draf gebeur selde tot nooit. Die pad vanaf my koshuis tot by die klas is te ver vir iemand met my fiksheidsvlak om te draf. En so lief is ek nou nie vir my kursus dat ek eerste by die lokaal wil wees nie.

Een slegte gewoonte wat ek aangeleer het as ‘n student is rook. Ek rook vandat ek ‘n eerstejaar is en mense kan dit altyd aan jou ruik. Nogtans probeer ek daarvan wegkom, maar niks wat ek doen werk nie. Elke dag wat ek klas toe stap, voel ek meer uitasem met my rokerslonge (bevestiging waarom ek nie klas toe draf nie). As ek weer sien, volg ek iemand wat met ‘n sigaret in die hand stap. So, met elke asemteug wat ek inneem, word ek daaraan herinner waarom ek nie sonder rook kan klaarkom nie. Ek kan dit nie help nie, ek is verslaaf. Met elke sigaretstompie wat op die grond gegooi word, voel ek wel sleg vir die eekhorings en duiwe wat dit gaan optel en ook verslaaf raak. Ek voel vervolgens nog slegter as ek my verbeel dat elke boom bevolk is met rokende eekhorings. En hulle het ‘n attitude hoor...

Al hierdie gedagtes, en ek het nog nooit eers ‘n sigaret in my mond gehad nie, maar met al die sekondêre rook in die omgewing is dit nie nodig nie. Rokende studente het die neiging om by sekere geboue se ingange saam te bondel, en enige rookseine en -figure wat deur hul rookstokkies opgetower word, val mens aan sodra jy daardeur beweeg. Dis genoeg om mens op 'n high te sit vir jou volgende Genetika les, en miskien is dit die rede waarom ek 'n hereksamen aan die einde van die jaar vir hierdie vak moes aflê. Die onttrekkingsimptome het my ondergekry toe ek in die skoon omgewing van my tuiste gestudeer het.

Nou is ek darem skoon, glo ek, maar ons sal sien wat gebeur wanneer klasse weer begin. Net omdat jy jouself kan afsonder van rook, beteken dit nie ander mense gaan hul laaste sigaretstompies dood druk nie.

Indien ek enige rokers se gevoellens seergemaak het, wil ek net sê: it’s not you, it’s your carbon footprint, and my lungs.

Monday, 6 June 2011

Verlange

Verlange
is 'n hart wat roep na 'n ander,
'n traan wat loop
omdat dit nie sy sin kon kry,

tyd wat verloop...
en emosies wat ly.

Verlange
maak die wag baie langer
alhoewel tyd tog verander.

Woorde is nie meer genoeg
sonder die aanraking
van 'n liefling.

Liefde maak dit moeilik
Liefde maak dit maklik
Liefde maak jou hartseer
Liefde maak jou bly

Soggens is jy die son
wat my wakker maak.
Saans is jy die sterre
wat my laat slaap.

Ek sien jou naam...
Ek hoor en voel dit oral!
Ons is altyd saam,
maak nie saak waar ookal.

Ek sal aan Hoop vashou,
jou sakdoek bly vasklou,
en wens more was al nou...

Gou
wil ek jou weer vashou
en nooit weer laat gaan,

Want jy is 'n man so na my hart,
'n Man wat ek definitief moet hou.

Thursday, 2 June 2011

Dis Leeuwêreld

Hierdie leesbrokkie is 'n rubriek wat ek ingeskryf het vir die studentekoerant verlede jaar. Dit was in die tydperk toe ons kampus se rekenaargebruikersareas (RGA's) nuwe printers gekry het.

Groot is my verbasing noudat ek vir die eerste keer te staan kom voor hierdie nuwe gediertes. Ek het gelees en gehoor daarvan, maar nooit gedink dat dit in my natuurlike habitat sou voorkom nie. Daar staan die goed nou, dreunend en dreigend, en oral staan mense met onsekerheid geskryf op hul gesigte.

Die naweek is verby en mens het notas nodig vir die aankomende week. So in my haastigheid na my RGA se oop area, waar ek (gelukkig) ‘n sitplek kry, volg ek die gewone roetine op die intranet tot by my vakkelys en kies die gewoonlike printer om my papiere uit te druk. Ek staan onmiddelik op om dit te gaan haal, voor ‘n aasvoël dit per ongeluk vir homself vat, en dis hier waar ek in my spore vries voor die gemuteerde gedrogte. Sien, ek is verstrooid, so ek sien nie sulke dinge in die begin raak tot dit te laat is nie.

Dit neem my drie sekondes om agter te kom ek het te make met die nuwe RGA-printers. Dit neem egter drie minute om die twee lyne instruksies op die klein swart skermpie bo dit in my kop te kry en te besef dat my papiere nie vanself gaan uitkom nie. Daarom beweeg ek na die rekenaar om die nodige aanpassings te maak.

Terug by die printers staan ek soos ‘n meerkat wat die hele besigheid dophou. Instinktief weet ek dat ‘n studentekaart êrens gebruik moet word, maar waar? My oë hou die enkeles wat rondom my staan dop: hul gesigsuitdrukkings is onduidelik. Ek kan nie agterkom of hulle ook verward is of net ‘n blou Maandag beleef nie. Dalk is hul werksdruk so erg dat hulle ook nie dié van onbekende printers kan hanteer nie?

Gelukkig voor ons breine oorgaan na hibernasie, kom iemand na vore en veeg hul kaart bo een van die drukkers. Gehoorsaam en mak soos ‘n hond wat iets aan sy baas terugbring, spoeg dit alles uit wat die persoon verwag. So dís waar die kaart gehou moet word, sê ek vir myself. Geen wonder ek kon dit nie vind nie. Mense soos ek moet hoog op hul tone staan om te sien waar die kaart geveeg moet word en dan moet jou arm nog ver rek ook! Wat is ons, ballerinas? Ons het nie almal kameelperdnekke wat alles, plus wat die weer daarbo is, raaksien nie. Wat het moedernatuur besiel om by my die kort-gene te selekteer...

Ek strek my studente kaart na die sensor bo-op die printer. My notas kom een vir een uit, slegs myne, geïnk aan albei kante, reg vir my om op my gemak te neem. Wat ‘n wonderlike stelsel! Nooit weer sal getalle roofdiere rondom printers vergader en kompeteer vir ‘n geleentheid om sy notas tussen vele ander papiere soos vleis te gryp en hardloop, en in die proses iemand anders s’n steel nie (vleis is duur genoeg). En die papier wat bespaar word, laat my ook minder skuldig voel oor die bome wat ek al moes afkap vir akademiese redes. As ek dit bietjie kon verbeter, sou ek wel ‘n stoeltjie of twee naby die drukkers plaas vir korter mense om op te staan of die tafel se pote korter sny.

Noudat ek alles het wat ek benodig, stap ek buite op kampusvelde. Elke dag is 'n stryd om te oorleef. Jy moet vat wat jy kry of honger bly. Dis waarom ek so gou moontlik by die woude van koswinkels probeer uitkom, want met die paar “bome” wat afgekap is by die ingang en deur 'n bank oorgeneem is, word dit moeiliker om tydens middagete sitplek te kry. Nie dat ek graag binne sit nie, ek verkies die ope lug se sonstrale, maar dit bly altyd 'n uitdaging om kos in die hande te kry. As jy nie versigtig is nie, kom jy dalk nie weer daar uit nie. Wel, ten minste nie vir 'n hele uur nie.

Alles wat ons doen is eintlik 'n poging tot oorlewing en elkeen is aangepas om sy omgewing te oorleef. Sommiges is heterosigote wat dominante eienskappe toon in hul dade, maar ook goed doen in ander sake. Ander is homosigote wat slegs in een ding spesialiseer en domineer. Tog dink ek dis belangrik om 'n balans te handhaaf. Wees eerder 'n heterosigoot: werk hard aan jou akademie of passie, maar ontspan en leef bietjie ook. Heterosigote kan beter aanpas wanneer die omgewing veranderinge ondergaan.

Elke spesie sal hopelik aan die anderkant uitkom, of dit studente is van Natuurwetenskappe (gekenmerk deur wit laboratoriumjasse), Regsgeleerdheid (hulle lyk meestal gekleed vir die hof), Opvoedkunde (telkens verwar met Kunsstudente) of Ingenieurswese (wat elkgeval sal uitsterf as hulle nie gou die teenoorgestelde geslag ontmoet nie). Survival of the fittest: dis Leeuwêreld dié.