My enigste vorm van oefening is wanneer ek klas toe loop, of in die uiterste gevalle as ek laat is, snelloop. Klas toe draf gebeur selde tot nooit. Die pad vanaf my koshuis tot by die klas is te ver vir iemand met my fiksheidsvlak om te draf. En so lief is ek nou nie vir my kursus dat ek eerste by die lokaal wil wees nie.
Een slegte gewoonte wat ek aangeleer het as ‘n student is rook. Ek rook vandat ek ‘n eerstejaar is en mense kan dit altyd aan jou ruik. Nogtans probeer ek daarvan wegkom, maar niks wat ek doen werk nie. Elke dag wat ek klas toe stap, voel ek meer uitasem met my rokerslonge (bevestiging waarom ek nie klas toe draf nie). As ek weer sien, volg ek iemand wat met ‘n sigaret in die hand stap. So, met elke asemteug wat ek inneem, word ek daaraan herinner waarom ek nie sonder rook kan klaarkom nie. Ek kan dit nie help nie, ek is verslaaf. Met elke sigaretstompie wat op die grond gegooi word, voel ek wel sleg vir die eekhorings en duiwe wat dit gaan optel en ook verslaaf raak. Ek voel vervolgens nog slegter as ek my verbeel dat elke boom bevolk is met rokende eekhorings. En hulle het ‘n attitude hoor...
Al hierdie gedagtes, en ek het nog nooit eers ‘n sigaret in my mond gehad nie, maar met al die sekondêre rook in die omgewing is dit nie nodig nie. Rokende studente het die neiging om by sekere geboue se ingange saam te bondel, en enige rookseine en -figure wat deur hul rookstokkies opgetower word, val mens aan sodra jy daardeur beweeg. Dis genoeg om mens op 'n high te sit vir jou volgende Genetika les, en miskien is dit die rede waarom ek 'n hereksamen aan die einde van die jaar vir hierdie vak moes aflê. Die onttrekkingsimptome het my ondergekry toe ek in die skoon omgewing van my tuiste gestudeer het.
Nou is ek darem skoon, glo ek, maar ons sal sien wat gebeur wanneer klasse weer begin. Net omdat jy jouself kan afsonder van rook, beteken dit nie ander mense gaan hul laaste sigaretstompies dood druk nie.
Indien ek enige rokers se gevoellens seergemaak het, wil ek net sê: it’s not you, it’s your carbon footprint, and my lungs.
No comments:
Post a Comment
Los gerus 'n boodskappie :-)