Sunday, 27 November 2011

Klein Jakkalsies: Deel 2

Graag wil ek aan jou as leser sê: baie dankie dat jy jou tyd afstaan om die tweede gedeelte van hierdie tema te lees. Dit beteken dat ek iets reg gedoen het toe ek met my lys van irritasies begin het, of dat dit ’n absolute flop was en jy dink dat hierdie een beter sal wees. Wat die rede ookal is, ek is net bly dat jy dit lees. Hoe hoër die “blog views” is, hoe beter laat dit my voel, ongeag wat julle van my blog dink...

So hier volg my lys van irritasies: Deel 2! Geniet dit.

1) Verwagtinge wat mense van my het.
Hoe ouer en verder gevorderd of gekwalifiseerd ’n mens word, hoe meer verwagtinge word daar aan jou gestel. En met goeie rede ook. Mens verwag dat ’n mediese student byvoorbeeld na vyf jaar tog moet weet waar die lewer in die liggaam sit... Ja goed, simpel voorbeeld, maar jul verstaan wat ek bedoel. Die tipe verwagtinge waarvan ek praat is minder lewensbelangrik, maar tog blyk dit om saak te maak vir sommige mense. Kom ek vat my lektors as ’n voorbeeld. Voor toetse stel hul memo’s van vorige jare beskikbaar aan ons, alhoewel dit meer soos preke voel. Kort-kort word daar genoem hoe daar van ons as derdejaars verwag word om op hierdie vlak reeds te weet hoe om daardie tipe vrae in detail te beantwoord. Dis wat hulle sê, maar wat dit eintlik beteken is dat hul verwag dat ons teen dié tyd hul gedagtes kan lees en antwoorde kan ruik vanaf vraestelle. Kyk Professor, net omdat jy al vir 50 jaar die vak aanbied en antwoorde ken, beteken dit nie dat jou intelligensie na ons oorgedra word nie. Ek kan aangaan met mense se verwagtinge wat tyd behels, maar dit hou ek vir ’n volgende deel.

2) Rokers wat voor mens stap en rook.
Ek was nooit verslaaf aan rook tot drie jaar gelede nie. Sekondêre rook bedoel ek. Alles te danke aan die primêre rokers wat voor mens stap en vrygewig hul pad merk met rookseine. Dit verbaas my altyd dat daar mense is wat 7:30 die oggend oppad klas toe ’n stompie moet suig. Is jou eerste klas in die oggend regtig só stresvol dat jy ’n sigaretjie moet rook? Ek het niks teen jou as persoon nie, ek is net nie lus om elke dag my hare te was en skoon klere aan te trek as gevolg van mense soos julle nie. Dalk ruik jy nie die rook aan jou nie, maar ek ruik dit aan my, en dit stink! En glo dit of nie, jul vererger party mense se hooikoorsvlakke. Weereens, dis nie julle nie, dis my longe... Dink jy ek’s onredelik? Vertel my hoe sou jy voel as ek insekgif oral waar ek stap sou rond spuit, terwyl jy agter my aanstap en die goed heeltyd ruik en inasem? Dis dieselle konsep.

3) Stadige wandelaars.
As daar een ding is wat net so erg is soos rokers wat voor jou stap, is dit stadige wandelaars wat voor jou stap, veral as daar min spasie is om verby te beweeg, en veral wanneer jy haastig is. Mense, sommige van ons hét ’n plek/afspraak/klas/werk om by uit te kom, mense wat nie glo in African time nie. As jy jou tyd wil neem (wat ek vir almal gun, want die lewe is klaar so ’n gejaag), probeer tog net ’n spasie los vir ons arme losers wat nie tyd in ons hande het nie...

4) Wanneer universiteits-eksamenpunte op die stelsel teruggetrek word.
My pa is soms aan die vergeetagtige kant, wat beteken dat hy meestal sy tyd neem om uitstaande klasgelde te betaal. Die universiteit weerhou dan alle prestasiepunte tot alle skuld vereffen is. Ek het nie ’n probleem daarmee nie. Nee, ek het ’n probleem daarmee as ek nie my punte kan sien nie (dit laat my meer stres oor my uitslae), maar gewoonlik word dit gou uitgesorteer. Wat ek wel nie verstaan nie, is wanneer mens se November eksamenpunte teruggehou word, word die Junie eksamenpunte ook teruggetrek. Hallo, ek WEET wat my punte verlede semester was, so wat’s die punt daarvan om dit ook terug te trek? Admin, weet jy...

5) Wanneer mens vra wat ek met my graad kan doen.
Die eerste dertig keer wat ek gevra is wat ek swot en wat ek kan doen met my graad, was nog snaaks. Nie meer nie. Ek lag steeds vir daardie vrae, maar meer uit ongeloof dat nog iemand my dit vra as iets anders. Goed, ek gaan dit vir almal mooi uiteensit, dan kan niemand meer sê hul weet nie wat my graad beteken nie (tensy hul nie hierdie blog lees nie, wat beteken ek gaan dit nog baie moet doen). Ek studeer BSc (Bachelor of Sciences) in Biodiversiteit en Ekologie. Biodiversiteit is biologiese diversiteit of variasie van lewe (spesies, ekosisteme en genetiese materiaal) in ’n sekere gebied, habitat, bioom of ekostelsel. Ekologie is die verhouding van organismes met mekaar (ook die mens) met hul fisiese omgewing. Dit is ’n biologiese veld en bevat die volgende tipiese vakke: biochemie, biodiversiteit en ekologie, biologie, chemie, dierkunde, fisika, genetika, mikrobiologie, plantkunde, rekenaarvaardighede, en wiskunde. Dis wat ek tog gehad het. Ons het egter gespesialiseer in plant- en dierkunde. Soos jul kan sien is ons rigting uiters divers, net soos die geleenthede wat daar vir ons is. Dis nie soos ’n mediese student wat definitief ’n dokter gaan word of iemand wat onderwys swot wat vir ’n feit ’n onderwyser gaan word nie. Ja, ons word wetenskaplikes, maar ons veld is breër as dit. Maar as jy nou regtig wil weet wat ek met my graad kan word en doen, hier volg ’n lys (nie in ’n spesifieke volgorde):

Wetenskaplike
Bioloog
Ekoloog
Dierkundige
Plantkundige
Omgewingsbestuurder
Joernalis
Onderwyser
Navorser
Skrywer
Fotograaf
Wildbewaarder
Impak studies
Bankier
Illustreerder
Kunstenaar
Stripper
Danser
Sportster
Ontwerper
Skoonmaker
Tuinwerker
Verkoper
Smokkelaar
Entrepreneur
Winkelier
Boemelaar
Komediant
Musikant
Sanger
Aktrise
Ensovoorts......

Volgende keer as iemand dit weer aan my vra, sal ek hierdie lys vir hul gee en sê: “Enige van die volgende.” Is jy nou gelukkig? Let wel dat alles in die lys wyd verspreid in werksopsigte kan wees. Let ook op dat ek nie noodwendig alles as 'n opsie vir myself beskou nie...

Sunday, 20 November 2011

Klein Jakkalsies: Deel 1

Die lewe is wonderlik en aangenaam, afhangende van wat jy daarvan maak, maar ongelukkig is die wêreld nie sonder sy irritasies nie. Almal het irritasies, of dit nou klein jakkalsies is wat knibbel aan jou hakskene of groot wolwe is wat jou kou soos ’n hoenderbeentjie. Soms bring jy dit aan jouself, soms is dit die doen en late van ander mense, maar meestal is dit ’n kombinasie. Nee ek jok, dis meestal idiote se skuld, maar as dit nie vir hulle was nie, was daar minder om oor te lag.

Ek het ’n hele lys; daar is soveel irritasies dat ek dit in dele moes opbreek. Mens sal vir ewig lees as ek alles in een blog moes skryf, of net glad nie lees nie. Dus, vir jullle (en my) gerief is alles verdeel om jul geïnteresseerd te hou. Miskien vind jy iets wat ons in gemeen het. En as jy vind dat jy die oorsaak van enige van hierdie irritasies is, stop dit nou! Jy irriteer mense.

So hier is my lys van irritasies: Deel 1

1) Mense wat nie verstaanbare Engels kan praat nie.
Ons bly in ’n land met elf amptelike tale. Dis onmoontlik vir ’n normale persoon om al elf te leer, so die enigste manier om met mekaar te kommunikeer is deur Engels (gelukkige Engelse blikskottels wat in elk geval te lui is om ander tale te leer). En tog is daar mense wat nou nog nie ordentelike Engels kan praat nie. Ek moet erken dat my tweede taal nou nie wonderlik is nie, maar te minste is ek nog verstaanbaar. In baie gevalle moet mense meer as drie keer vra om te herhaal wat hulle gesê het. Doen tog moeite! Kry vir jou ’n fonetiese woordeboek! 

2) Ooglopende spelfoute en gramatikale foute op klasnotas.
Meeste van my klasse loop van agtuur tot vyfuur, waarna ek terug koshuis toe moet stap, koshuiskos afwurg, vinnig in die stort spring om die slegte dag van my af te skrop en dan moet ek nog vir daardie simpel toets in ’n kort periode leer. Teen daai tyd is ek keelvol van al die werk, so jy kan net dink hoe erg dit my frustreer om spelfoute te ontdek en die sinskonstruksies glad nie sin maak nie. Dít maak die alreeds moeilike werk net nog moeiliker! Professors en onderwysers, as julle nie kan spel of ordentelik vertaal nie, moet dit om hemelsnaam nie van jul studente verwag nie. Dis uiters hipokreties van julle!

3) Ego’s oor kommunikasie toestelle.
Talle mense het vantevore vir my gesê dat ek ’n mooi, diep, besonderse stem het. Party het gevra of ek sing (ek het in skoolkoor gesing ja), en ander glo weer my stem is gepas vir radio. Almal wat ons familie ken het al genoem dat ek soos my ma klink. Dankie vir die komplimente. Dit beteken egter nie dat ek my eie stem wil hoor nie. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is bly ek het ’n diep stem in plaas van ’n hoë skril stemmetjie, maar om my stem te hoor is net eienaardig vir my. Dit laat my ongemaklik voel. Jy weet, daardie gevoel van: “Is dit regtig MY stem? Klink ek SO?”. As ek diep in gesprek is met iemand oor ’n tegnologiese kommunikasie toestel (soos ’n telefoon, selfoon, of ’n rekenaarprogram soos Skype), haat ek dit om ego’s van my stem te hoor. Die mense aan die anderkant van die lyn dink seker ek is vertraag of iets elke keer as dit gebeur, want ek stop in die middel van ’n frase net om te hoor hoe klink dit. Ek kan nie konsentreer op wat ek volgende moet sê om die sin klaar te maak nie! Ego’s help skeinbaar vir mense wat hakkel, maar in my geval laat dit my net meer hakkel.

4) Liggelowige mense.
My probleem lê meer by liggelowige mense wat boodskappe oor e-pos, sms, bbm, Facebook, watter manier ookal, verstuur aan mense as liggelowige mense self. Die chainletters wat hul vir jou stuur lui tipies soos die volgende: “As jy dit nie vir 50 mense binne die volgende 50 sekondes stuur nie, gaan ’n pterosauriër op jou kop poef,” of “Stuur dit nou en jy sal deur die liefde van jou lewe gesoen word”. Regtig? Ek het nog nooit ’n koerantopskrif gelees wat sê: “Persoon sterf omdat hy nie boodskap wou aanstuur”. Buitendien, ek het nie soveel mense op my kontaklyste nie! As dit ’n oulike boodskappie is, stuur dit enige tyd vir my, maar net as jy wil, nie omdat jy verplig voel nie. Laat my toe om dit duidelik te maak vir eens en vir altyd. Nommer een: Facebook gaan jou nie uit die netwerk uitskop nie, al is jy jare onaktief. Daar is mense wat oorlede is wie se profiele steeds in die kuberuim rondsweef. Nommer twee: jy sal altyd bbm’s vir jou maatjies kan stuur (behalwe as daar iets fout met hul netwerk is). Nommer drie: Google het al die geld in die wêreld. Hul is nie bereid om die volle bedrag vir iemand se operasie, wat hul lewe kan red, te betaal nie. Nee, maar hulle is wel bereid om 5 sent te gee vir elke e-pos wat jy versprei om hierdie opgemaakte hartseer storie te vertel. Hoe goedhartig! Onthou net daar is mense, wat nie ’n lewe het nie, wat hierdie tipe goed opmaak en agterna lag vir ons. Jy moet kan onderskei tussen fiksie en waarheid.

5) Huistakies op ongeleë tye.
Ek gee regtig nie om om uit te help met huistakies soos wasgoed was en ophang of skottelgoed in die skottelmasjien pak (want ek haat dit om skottelgoed te was) of om ander gunsies te doen nie. Nee, regtig, ek gee nie om nie, maar wel nie op die verkeerde tyd nie. My ouers gebruik graag verskonings soos: “Sal jy as jy ’n studiebreuk neem vir my die wasgoed ophang?” of “Jy het mos nou vakansie”. Ja, ek beskou mos wasgoed ophang as ’n goeie ruskansie en ek hou mos daarvan om my vrye tyd aan jul gunsies te spandeer as ek pas opgestaan het/by die huis gekom het/besig is met dinge wat vir my belangrik is/min tyd eintlik het. Ek sê weereens, ek is my ouers ewig dankbaar en help graag waar ek kan, net nie op die verkeerde tyd nie, en moet asseblief nie aanstoot neem daaroor nie.