Graag wil
ek aan jou as leser sê: baie dankie dat jy jou tyd afstaan om die tweede
gedeelte van hierdie tema te lees. Dit beteken dat ek iets reg gedoen het toe
ek met my lys van irritasies begin het, of dat dit ’n absolute flop was en jy
dink dat hierdie een beter sal wees. Wat die rede ookal is, ek is net bly dat
jy dit lees. Hoe hoër die “blog views” is, hoe beter laat dit my voel, ongeag
wat julle van my blog dink...
So hier
volg my lys van irritasies: Deel 2! Geniet dit.
1) Verwagtinge
wat mense van my het.
Hoe ouer en
verder gevorderd of gekwalifiseerd ’n mens word, hoe meer verwagtinge word daar
aan jou gestel. En met goeie rede ook. Mens verwag dat ’n mediese student
byvoorbeeld na vyf jaar tog moet weet waar die lewer in die liggaam sit... Ja
goed, simpel voorbeeld, maar jul verstaan wat ek bedoel. Die tipe verwagtinge
waarvan ek praat is minder lewensbelangrik, maar tog blyk dit om saak te maak
vir sommige mense. Kom ek vat my lektors as ’n voorbeeld. Voor toetse stel hul
memo’s van vorige jare beskikbaar aan ons, alhoewel dit meer soos preke voel.
Kort-kort word daar genoem hoe daar van ons as derdejaars verwag word om op
hierdie vlak reeds te weet hoe om daardie tipe vrae in detail te beantwoord.
Dis wat hulle sê, maar wat dit eintlik beteken is dat hul verwag dat ons teen
dié tyd hul gedagtes kan lees en antwoorde kan ruik vanaf vraestelle. Kyk
Professor, net omdat jy al vir 50 jaar die vak aanbied en antwoorde ken,
beteken dit nie dat jou intelligensie na ons oorgedra word nie. Ek kan aangaan
met mense se verwagtinge wat tyd behels, maar dit hou ek vir ’n volgende deel.
2) Rokers wat
voor mens stap en rook.
Ek was
nooit verslaaf aan rook tot drie jaar gelede nie. Sekondêre rook bedoel ek.
Alles te danke aan die primêre rokers wat voor mens stap en vrygewig hul pad
merk met rookseine. Dit verbaas my altyd dat daar mense is wat 7:30 die oggend
oppad klas toe ’n stompie moet suig. Is jou eerste klas in die oggend regtig só
stresvol dat jy ’n sigaretjie moet rook? Ek het niks teen jou as persoon nie,
ek is net nie lus om elke dag my hare te was en skoon klere aan te trek as
gevolg van mense soos julle nie. Dalk ruik jy nie die rook aan jou nie, maar ek
ruik dit aan my, en dit stink! En glo dit of nie, jul vererger party mense se
hooikoorsvlakke. Weereens, dis nie julle nie, dis my longe... Dink jy ek’s
onredelik? Vertel my hoe sou jy voel as ek insekgif oral waar ek stap sou rond
spuit, terwyl jy agter my aanstap en die goed heeltyd ruik en inasem? Dis
dieselle konsep.
3) Stadige
wandelaars.
As daar een
ding is wat net so erg is soos rokers wat voor jou stap, is dit stadige
wandelaars wat voor jou stap, veral as daar min spasie is om verby te beweeg,
en veral wanneer jy haastig is. Mense, sommige van ons hét ’n plek/afspraak/klas/werk
om by uit te kom, mense wat nie glo in African
time nie. As jy jou tyd wil neem (wat ek vir almal gun, want die lewe is
klaar so ’n gejaag), probeer tog net ’n spasie los vir ons arme losers wat nie tyd in ons hande het
nie...
4) Wanneer universiteits-eksamenpunte
op die stelsel teruggetrek word.
My pa is
soms aan die vergeetagtige kant, wat beteken dat hy meestal sy tyd neem om
uitstaande klasgelde te betaal. Die universiteit weerhou dan alle
prestasiepunte tot alle skuld vereffen is. Ek het nie ’n probleem daarmee nie.
Nee, ek het ’n probleem daarmee as ek nie my punte kan sien nie (dit laat my
meer stres oor my uitslae), maar gewoonlik word dit gou uitgesorteer. Wat ek
wel nie verstaan nie, is wanneer mens se November eksamenpunte teruggehou
word, word die Junie eksamenpunte ook teruggetrek. Hallo, ek WEET wat my punte
verlede semester was, so wat’s die punt daarvan om dit ook terug te trek?
Admin, weet jy...
5) Wanneer
mens vra wat ek met my graad kan doen.
Die eerste
dertig keer wat ek gevra is wat ek swot en wat ek kan doen met my graad, was
nog snaaks. Nie meer nie. Ek lag steeds vir daardie vrae, maar meer uit ongeloof
dat nog iemand my dit vra as iets anders. Goed, ek gaan dit vir almal mooi
uiteensit, dan kan niemand meer sê hul weet nie wat my graad beteken nie (tensy
hul nie hierdie blog lees nie, wat beteken ek gaan dit nog baie moet doen). Ek
studeer BSc (Bachelor of Sciences) in Biodiversiteit en Ekologie.
Biodiversiteit is biologiese diversiteit of variasie van lewe (spesies,
ekosisteme en genetiese materiaal) in ’n sekere gebied, habitat, bioom of ekostelsel.
Ekologie is die verhouding van organismes met mekaar (ook die mens) met hul
fisiese omgewing. Dit is ’n biologiese veld en bevat die volgende tipiese
vakke: biochemie, biodiversiteit en ekologie, biologie, chemie, dierkunde, fisika,
genetika, mikrobiologie, plantkunde, rekenaarvaardighede, en wiskunde. Dis wat
ek tog gehad het. Ons het egter gespesialiseer in plant- en dierkunde. Soos jul
kan sien is ons rigting uiters divers, net soos die geleenthede wat daar vir
ons is. Dis nie soos ’n mediese student wat definitief ’n dokter gaan word of iemand
wat onderwys swot wat vir ’n feit ’n onderwyser gaan word nie. Ja, ons word
wetenskaplikes, maar ons veld is breër as dit. Maar as jy nou regtig wil weet
wat ek met my graad kan word en doen, hier volg ’n lys (nie in ’n spesifieke volgorde):
Wetenskaplike
Bioloog
Ekoloog
Dierkundige
Plantkundige
Omgewingsbestuurder
Joernalis
Onderwyser
Navorser
Skrywer
Fotograaf
Wildbewaarder
Impak
studies
Bankier
Illustreerder
Kunstenaar
Stripper
Danser
Sportster
Ontwerper
Skoonmaker
Tuinwerker
Verkoper
Smokkelaar
Entrepreneur
Winkelier
Boemelaar
Komediant
Musikant
Sanger
Aktrise
Ensovoorts......
Volgende
keer as iemand dit weer aan my vra, sal ek hierdie lys vir hul gee en sê:
“Enige van die volgende.” Is jy nou gelukkig? Let wel dat alles in die lys wyd verspreid in werksopsigte kan wees. Let ook op dat ek nie noodwendig alles as 'n opsie vir myself beskou nie...
No comments:
Post a Comment
Los gerus 'n boodskappie :-)