Monday, 31 December 2012

2012: Einde van die Wêreld Insigte

2012: Wat 'n vreemde jaar, dis al wat ek kan sê. Dit was nie die slegste jaar nie, maar ook nie die beste nie. Dit was net doodgewoon vreemd. Of dit te make gehad het met die feit dat die wêreld veronderstel was om te vergaan, weet ek nie. Maar die aarde draai nog, net soos verlede jaar, en die jaar voor dit en twee jaar voor dit... Volgens Wikipedia moes die wêreld 634 BC al vergaan het, en alhoewel heelwat spesies al uitgesterf het, staan ons nog hier, die boonste punt van die voedselketting, die "top-spesie".

Net omdat meer natuurrampe, soos Hurricane Sandy en Typhoon Bopha, die rondte doen op moeder aarde, beteken nie sy is besig om te vergaan nie. Natuurrampe is soos verkoue: dis iets wat soms gebeur. Ek praat dit nie goed nie, maar as jy nie voorsorg tref nie, gaan jou gesondheid agteruit gaan (sê ek wat veilig weg van al daardie "winde" is). Ons moes voorsorg getref het met globale verhitting, maar sommige mense wil mos nie luister nie...

Hierdie jaar was die jaar van die Olimpiese Spele in Londen (ons swemmers en paralimpiese atlete het soos altyd nie teleurgestel nie), Curiosity wat voorwaarts mars suksesvol op Mars geland het, Whitney Houston en Neil Armstrong wat oorlede is (moet hom tog nie met Lance Armstrong verwar nie), die SOPA (Stop Online Piracy Act) debat, die KONY 2012 video wat die rondte gedoen het, Prins William en Kate wat hul eersteling verwag, en twee swart presidente wat vir 'n tweede termyn aangestel is (waarvan een 'n soveelste vrou ingewerp het). En moenie vergeet van Riaan Cruywagen wat, na jare op TV en nuus, afgetree het. Daar is Afrikaans finaal in sy tjops in wat die SAUK aanbetref. Een van die min dinge/mense wat konstant gebly het, ons Afrikaans-sprekendes veilig laat voel het, is weg.

Daar was ander gebeurtenisse wat my laat voel het die wêreld kan maar eindig. Dit was vir almal 'n skok toe Lance Armstrong van al sy Tour de France medaljes gestroop is as gevolg van sy gebruik van prestasie-verbeteringsdwelms (weereens, moet hóm nou nie verwar met Neil Armstrong nie). Vir jare het hy ons mislei as die beste fietsryer ter wêreld. Dan is daar Uganda wat met alle geweld hul Kill the Gays Bill wil laat aanvaar.

In Indië is 'n 23-jarige meisie dood in die hospitaal nadat sy deur ses mans op 'n bus vir 'n uur lank verkrag en aangerand is. In 'n ander saak het 'n 17-jarige meise selfmoord gepleeg nadat sy ook verkrag is deur 'n groep mans, maar in plaas daarvan dat die polisie haar help, dwing hul haar om die saak terug te trek teen vergoeding, of om een van haar aanvallers te trou. Wat de hel is die polisie se probleem?!

Marikana en die stakings wat daarna gevolg het in ander sektore van die land, het nie Suid-Afrika te goed laat lyk nie. Ek verstaan die wil vir staak, maar waarom moet soveel onskuldige mense vermoor word en verwoesting gesaai word in die proses... Ook onlangs het 'n groep drommels in 'n Amerikaanse skool ingevaar en talle kinders en onderwysers dood geskiet.

Het julle geweet Lonesome George is ook hierdie jaar dood? Ek nie. Weet julle wie hy was? Ek ook nie, so ek het gaan opsoek. Hy was die laaste individu van die Pinta Eiland skilpad subspesies. Hierdie subspesie het dus amptelik uitgesterf hierdie jaar. Wie weet hoeveel ander spesies het hierdie jaar en gaan nog binnekort uitgewis wees. Hierdie jaar is daar reeds 633 renosters gestroop in Suid-Afrika.

'n Oomblik van stilte vir die almal wat hierdie jaar oorlede is: die stakers wat dit nie verdien het nie, dié wat vermoor is deur stakers, die volwassenes, die kinders, mense van ontwikkelde en ontwikkelende lande (al is hul nie nuuswaardig nie), mense wat ons geken en nie geken het nie, en alle diere.

Hierdie jaar het wel ook tot nuwe insigte gelei. Kanada het alle verbindinge met Iran verbreek omdat hul nie saamstem met hul ondersteuning vir die Siriese regering en hul skending van menseregte nie. 'n Baas van 'n renoster-sindikaat het 40-jaar tronkstraf gekry. Indië staak omdat hul gatvol is vir verkragters wat wegkom met alles. Die hele wêreld is in opstand. Meer en meer mense val nie net meer vir enige iets nie. Meer mense het tot nuwe insigte gekom, waar ander nie.

My jaar was self 'n rollercoaster. My jaar het afgeskop met 'n drie maande verblyf in België, en met my terugkoms het my eks met my opgebreek na 'n verhouding van 3.5 jaar. Waarom? Want hy het een oggend opgestaan en besef hy voel niks meer vir my nie. En ja, ek is seker daar was nie 'n derde party nie, ingeval jul wonder.

My laptop het nie meer so lekker gewerk nie, toe stuur ek dit in om reg te maak, net om 'n "stukkender" een terug te kry. Na 'n paar ander IT ouens dit nie kon regmaak nie, stuur ek dit toe vir ons versekering om dit reg te maak of 'n nuwe een te gee. Hiep hiep hoera, op een of ander wonderwerklike manier kry hul dit aan die gang, hul sal dit by my kom aflewer. Die dag kom, maar hul lewer nie af nie. Ek hoor toe dat die kar waarin hul als vervoer, is gehijack. En raai wie se laptop was ook in die kar? Jip, myne. Hiep hiep hoera...

Ek het darem ook tot 'n paar nuwe insigte gekom. Ek kon 4 jaar saam met 'n goeie ou gevier het, maar in plaas daarvan het ek geleer dat ek kan volgroeid en lief wees vir myself sonder dat iemand anders my eers moet liefhê. Ek het volhard in 'n langafstandverhouding, so ek kan enige verhouding in die toekoms aanpak, maak nie saak watter moeilikhede voorkom nie. Ek is sterker as wat ek gedink het, ek sal hierdeur kom net soos baie ander mense al het. My eks sal altyd 'n plekkie in my hart hê, maar dit sal nie meer die meeste plek inneem nie. Ek het wonderlike familie en vriende wat my ondersteun wie ek nooit hoef te wantrou nie. En ek het 'n nuwe laptop gekry!

Daar is soveel nuwe goed wat ek geleer en aangepak het hierdie jaar. Ek het 'n bloedskenker geword, met klawerbordlesse begin en selfverdedigingklasse. Ek het ook my eerste vakansiewerk gedoen.

My enigste nuwejaarsvoornemings is om gewig te verloor, goed te doen in my studies soos ek hierdie jaar het (ten spyte van alles wat ek deur is) en om weer te begin dans (ek mis dit verskriklik). Dis al wat werk verrig. Die res moet vanself kom anders kan mens dit net sowel los. Volgende jaar is die jaar van die slang, my jaar, so ek gaan na myself kyk en my beste doen in alles wat ek aanpak. Probeer als en behou die goeie. Ek is oop vir enige iets, selfs Gangam Style!

2013, ek is reg vir jou!

Friday, 12 October 2012

Huisdier Oefeninge

‘n Paar maande terug kon ek sê dat ek langer uit die land was as in my tuisland. Na my drie maande besoek in België was dit skaars twee weke voor ons na Namibië vertrek het vir drie weke se vakansie. Vir my was dit egter drie weke van ontkenning, hartseer en teleurstelling. Sien, ek was besig om te rou na ‘n liefdesteleurstelling ‘n 3.5 jaar lange verhouding beëindig het. Tussen dit en studies was dit maar moeilik om ‘n pen vas te hou, wat nog te sê pen op papier sit...

Daarom bestaan die lang pouse op my skryfwerk. Nietemin, my hart is nou besig met rehabilitasie en dit pyn (letterlik) nie meer so baie nie. Dit is ook te danke aan my familie en vriende se ondersteuning. Dit voel goed om weer terug in ‘n roetine te wees in ‘n plek wat jy ken.

Een van hierdie daaglikse roetines, wat ek bly is om weer van deel te wees, is om na die gim te gaan. Vir ons huisdiere wat nie veel uitkom nie is dit maar die manier om by te bly met jou fiksheid. Verlede jaar het ons klas berge geklim, op begrafplase rond geloop, in riviere geswem, deur riete gekruip, en na eksamenlokale gehardloop. Nou bly ek tuis en beweeg meestal tussen my kamer, badkamer en kombuis. Artikels lees is my sport.

Gim is natuurlik nie vir almal nie, maar oefening oor die algemeen hou verskeie voordele in:
  • Jou liggaam skei hormone af (soos endorfiene en serotonien) wat jou laat goed voel.
  • Dit maak jou fikser, sterker, maerder en vinniger.
  • Dit verbeter bloedsomloop, verlaag bloeddruk en versnel metabolisme.
  • Jou sensitiwiteit tot pyn verlaag (ek dink nie dit tel vir seer spiere na oefening nie).
  • Jy kan jou stres, hartseer en woede uitwerk. Regtig, probeer dit.
  • Dis te minste ‘n produktiewe uitstellingsmetode.
  • Sexy trainers, *kug* ek bedoel, dit gee jou ‘n gebalanseerde leefstyl.
As jy daaraan dink om aan te sluit, of nog ‘n beginner is wat die gim atmosfeer aanbetref, het ek wel klein bietjie raad. Jy sal dit elkgeval leer soos jy aangaan.

Hier is basiese gim etiket/raad/voorstelle:
  • Dis goeie maniere om jou sweet af te vee as jy klaar met die toerusting is.
  • Daar is eintlik nooit ‘n “goeie tyd” om te gaan oefen nie. Soggens kry jy die vreemde ou oompies in die gim en in die middag (net so na vieruur) is dit rush hour. Gaan wanneer dit jou pas.
  • Moenie te veel stres oor hoe jy lyk nie. Daar is soveel verskillende liggaamsvorme wat by ‘n gim oefen. En niemand let op nie, want hul konsentreer op hul eie roetine.
  • Dis oukei om nou en dan iets te sê aan jou pel in ‘n dansklas. Moet nou nie die hele tyd gesels nie! Dis irriterend.
  • Ek gaan gim toe om te oefen, nie om goed te lyk nie. Ja, om goed te lyk is die uiteindelike doelwit, maar ek hoef nie stylvol aan te trek vir die proses nie.
  • Jy is ook by die gim om te oefen, nie om my te probeer beïndruk nie. My 16-jarige boetie kan swaarder gewigte optel as jy, so gaan staan in die hoekie en dink na oor jou lewe.
  • As jy nie bietjie gesweet, uitasem, seer of moeg lyk nie, dan moet jy terugdraai en weer probeer of loop en nooit weer terug kom nie, want jy het duidelik nie hard genoeg geoefen nie en neem net onnodige plek op.
  • Wanneer jy sekere oefeninge doen, soos waar jou bene oop en toe of jou bekken op en af gaan, vermy oogkontak met die teenoorgestelde geslag so ver as moontlik.
  • Vir al die mense wat maer of gespierd is wil ek net sê: Jy kan maar ophou oefen! Jy’s klaar! Jy’t daai punt bereik. Laat die oefening oor aan ons wat nog daar moet uitkom.
Laastens moet jy onthou dat jy oefening doen vir jouself en vir jou eie gesondheid, nie vir iemand anders nie. Moet ook nie te hard op jouself wees nie. Om fikster en sterkter te word of gewig te verloor neem tyd. Intussen, geniet die rit!

Tuesday, 10 April 2012

Ek, AfriBelg

Grootword is nie maklik nie. Daardie vreeslike gevoel wat jy ervaar na jy jou graad ontvang het, wat drie of vier jaar se swoeg en bloed sweet en trane gekos het (in my geval dan). Na 'n welverdiende vakansie besef jy jy gaan nie terug na jou kampus, daardie wydverspreide gronde wat jy so goed leerken en voor lief geword het, nie. As jy net ingekom het vir nagraadse studies... Dink net aan die geheime hoekies en kortpaaie wat jy nog kon vind, in soveel minder tyd as voorheen. Maar nou is dit verby, en jy moet koebaai sê aan jou jeugvolle tydperk en regmaak vir die Groot G. Die Grootmens Wêreld.

Gelukkig het ek ingekom vir 'n Honneurs BSc graad in Omgewingsbestuur. Nie by my universiteit nie, maar by UNISA. En ook maar goed dat dit so uitgedraai het, want dit het my die geleentheid gegee om vir my ou te gaan kuier in België. Die bosiguana het hierdie maatjie al vir meer as drie jaar, maar omdat bosiguanas nie kan vlieg nie, moet sy van 'n vliegtuig gebruik maak. So hier is ek nou, in België, vir die tweede keer, vir die afgelope vier weke, en ek geniet dit. Liefie werk bedags terwyl ek studeer. So mens kan sê ek is so tussen student-wees en volwassenheid.

Dit was moeilik om afskeid te neem van my familie en vriende, die huis en omgewing, die honde, my kat, en selfs my getroue groen karretjie. Dis al erg om vir drie maande uit jou huis te “trek”, wat nog te sê na 'n ander land. En gewoonlik wanneer 'n mens trek, het jy die opsie om meer as 23kg se klere saam met jou te neem. Drie jaar se inpakkery vir die koshuis het my goed voorberei, maar die uitdaging was steeds groot. As 'n meisie het ek klere nodig, maar nee, ek moes 'n paar goed uithaal om plek te maak vir my handboeke (wat mos so “lig” soos veertjies is). Jippie.

Gelukkig het ek die gerusstelling gehad dat ek nie weghardloop van iets, maar hardloop na iets. Na die liefde van my lewe. Stadig maar seker word die verlange huis toe minder (alhoewel ek steeds aan almal dink vir wie ek omgee) en pas ek ook aan in my nuwe omgewing. Dis die eerste keer dat ek in die lente verjaar het, wat gewoonlik in herfs geskied. Ek woon nog nie lank hier nie, maar terwyl ek hier is, kan ek nie help om die volgende gedagtes te vorm oor België nie:
  • Baie min huise hier word omring deur hoë heinings of mure, en tog voel ek veiliger hier as by my tuiste wat agter tralies loer.
  • Die publieke vervoersisteem is uiters georganiseerd en nie so gekompliseerd soos wat ek vroeër gedink het nie. Jy moet net weet waantoe jy oppad is...
  • Danksy die maklike gebruik van busse, treine en fietse, voel ek beter oor my carbon footprint.
  • Motors ry hier in die regterbaan. Let wel, “regter”, en nie “regte”, want volgens my is dit nie die “regte” kant nie! Die bestuurder sit dus aan die linkerkant van die kar, en die ratte moet deur die regterhand verander word. Ek glo nie ek gaan sommer gou my internasionale rybewys gebruik nie.
  • Die paaie in die buurte is so smal, dit voel konstant asof jy besig is met gangparkering (een goeie rede waarom ek nie hier self 'n motor wil bestuur nie).
  • Petrolpryse gaan elke eerste Woensdag van elke maand op in Suid-Afrika, maar België is 'n paar stappe voor ons wat dit aanbetref (en nóg 'n rede waarom ek eerder op die bus sal klim).
  • Ek mis nie die minibus taksies nie.
  • Jy sien die interessantse mense op busse en treine, asook op al die stasies.
  • In die winter daal temperature onder die nul grade celsius, so dis maar net “logies” om meeste vloere met teëls te bedek...
  • Die meeste Europese huise en geboue het goeie verwarmers, maar ek mis tog die geselligheid wat net 'n kaggelvuur na vore kan bring.
  • Die land is klein en plat. Meeste professionele fietsryers sal dit dus nie in die Argus maak nie, nie met die hoë heuwels en styl bulte wat dit bied nie.
  • En dan besef ek dat EK sal dit nooit in die Argus kan maak nie. Maar, danksy my gymsessies het ek beter uithouvermoë as 'n paar jaar terug. En ek is maar net té dankbaar vir die plat oppervlaktes, baie dankie.
  • Daar is twee tipe fietsryers: dié wat al geval het, en dié wat nog gaan val. Raai onder watter kategorie val ek? Ek het die bloukol om dit te bewys. En nou die dag het ek amper in 'n paal vasgery...
  • As ek besluit ek wil 'n Europese buurland besoek, moet ek net vir 'n paar ure in 'n kar of trein sit, dan is ek daar. In Suid-Afrika moet mens 'n hele dag of twee met 'n kar ry (want treine is buite die kwessie) net om van die weste na die ooste of suide na die noorde te gaan. En ons praat nie eers om van Kaapstad na Windhoek te ry nie.
  • Daar is geen grense tussen lande van die Europese Unie nie. Dalk is ek te gewoond aan die grens tussen Suid-Afrika en Namibië wat geskei word deur 'n groot rivier, aanmeldingsgeboue en wagte met gewere (grappie vir daardie laaste een). Maar tog, daar is geen lyn getrek deur 'n bordkryt waaroor jy gaan nie. Jy kom net agter dat die aanwysingsborde geleidelik na 'n ander taal oorskakel, dis al. Daar is nie eers 'n bordjie wat sê: “Terloops, jy is nou in Frankryk/Duitsland/Nederland/Waarokal”.
  • Ek mis sekere kosse, soos Steers, Spur en die goedkoop pryse van McDonald's (hier is dit so duur, dis nie die moeite werd nie). Gelukkig is hier ander lekker kossoorte om te probeer, soos fritte (fries, maar net soos die Belge dit kan doen).
  • Noudat ons oor fritte praat: gewoonlik bestel mens iets as hoofmaaltyd met chips on the side, maar in België bestel jy fritte as hoofmaaltyd met iets on the side.
  • Sjokolades en kase wat ingevoer word na Suid-Afrika is goedkoper hier.
  • Daar is geen ander manier om België se internet te beskryf nie, as: Dis flippen awesome!
  • Dis nogal cool om die Nederlandstaliges te verstaan, maar hulle kan jou nie altyd verstaan nie. Dit is wel 'n frustrasie as ek verstaan wil word en ek vergeet sommige terme of gramatikale reëls. Maar ek werk daaraan. Een van die dae sal ek met trots kan sê dat ek drietalig is.
  • Ek kan sms'e ontvang en stuur van hier af met my Suid-Afrikaanse simcard, maar ek kan dit nie doen in Namibië nie. Ek weet Namibië is onafhanklik van Suid-Afrika, maar regtig...
  • België is van die beste lande om 'n beroepsbestaan vir jouself te maak (ek weet wel nie of dit vir buitelanders geld nie).
  • Dalk is dit net ek, of net sommige ouens, maar dikwels wanneer ons uitgaan en saam om 'n tafel sit, sal 'n ou vir sy pelle, en hul meisies, biere of drankies koop, sonder om iets terug te verwag. Ek is nie van daardie tipe wat nie hul kant bring as dit by die rekening kom nie, maar dit is wel handig...
  • Ek was stomgeslaan toe ek in een van die clubs ons sokkerwêreldbeker temalied (Waka-waka) hoor, en dit het my vir oomblik laat goed voel, tot die sig van 'n dronk meisie, wat daarop gedans het, die prentjie vir my gereüneer het...
  • Die lewe is duurder hier, maar mens kan nie altyd die Euro's vergelyk met Rande nie. Die ekonomie verskil te veel.
  • Die samelewing is meer “divers” in Suid-Afrika.
  • Ek meng my Afrikaans en Nederlands so baie dat ek soms wonder van watter oorsprong die sinne of gesegdes is wat ek gebruik.
Maak nie saak waar in die wêreld jy is en hoe veilig dit gewoonlik is nie, enige Suid-Afrikaner sal altyd met sy ingebore of ingeforseerde paranoia rondgaan. Ons sal altyd op die uitkyk wees vir die tipe gevaar wat ons te veel van weet, lees en selfs ondergaan het. Dit is wel belangrik om te onthou dat alhoewel mens heelwat ooreenkomste ervaar tussen jou land en die een wat jy besoek, daar ook net soveel verskille is. Onthou waar jy vandaan kom en gebruik jou aangeleerde vaardighede, maar wees ook bereid om bietjie aan te pas. Die belangrikste natuurlik: wees jouself, selfs in 'n ander taal en kultuur.

Tuesday, 14 February 2012

Natuurlike Liefde

Februarie, die maand van liefde. Dis al wat mens hoor en lees. Wit beertjies, rooi hartjies, pienk lekkergoed, sjokolade, wit beertjies met rooi hartjies, en nog baie meer word in mens se gesig gevryf deur advertensies. Valentynsdag is oppad. Vir die alleenlopers, asook mense in verhoudings wat nie hul geliefdes naby het nie, is dit moeilik om ‘n verliefde paartjie te sien sonder die drang om hul ‘n paar klappe te gee. Hoe durf hulle hul vreugde oop en bloot uitstal voor jou? Kan Romeo en Juliet nie doen wat Shakespeare voorgeskryf het, en net sterf nie?!

Nietemin, ek het onlangs geleer om nie te ernstig te reageer op Valentynsdag nie. Mens moet vir jou maat regdeur die jaar liefde wys, nie net op een dag per jaar nie. Ek moet wel erken dat groepsdruk deur die internasionale publiek my laat voel dat ek iets spesiaals moet doen vir my wederhelfde, of te minste my vriende...

Wat sou die wêreld gewees het sonder liefde en verliefdheid? Dit is een van die natuurlikste en sterkste emosies. Moeilik om met een woord te beskryf, maar soveel dade wat dit kan bewys. Selfs in die diereruim word liefdevolle aksies waargeneem, al word daar getwyfel aan die bestaan van diere se emosionele intelligensie.

Hier beskryf ek ‘n paar mense se dierlike liefdeswyse, ek bedoel, diere se menslike liefdeswyse. Daar is natuurlik duisende voorbeelde, maar ek dink hierdie is ‘n paar goeies waarvan mense kan leer, en waarskynlik al geleer het.

Malagasy Reuse Rot (“Malagasy Giant Rat”)


Hierdie oorgroot rotte met lang ore, endemies aan Madagaskar, is van die min knaagdiere wat monogamie toepas. Die mannetjies bereik seksuele volwassenheid binne ‘n jaar, so van ‘n vroeë ouderdom het hul heelwat seksuele gedagtes (dink net aan meeste tienerseuns), alhoewel hul nie iets sal probeer tot hul meer volwasse is by die ouderdom van 1.5 tot 2 jaar nie (soos slim tieners dit sou doen). Wyfies neem 2 jaar om seksueel reg te wees vir ‘n maat. ‘n Paartjie sal bymekaar bly en kinders grootmaak, letterlik “tot die dood hul skei”. Mannetjies is tipies oorbeskermende pa’s wat hul lewe sal waag om hul kinders te beskerm. Wanneer ‘n maat tot sterwe kom, sal die wyfie tuis bly tot ‘n nuwe potensiële maat na vore kom. Die mannetjie doen gewoonlik dieselfde, maar sal soms na ‘n nuwe tuiste by ‘n weduwee intrek. ‘n Meer volmaakte en opregte maat as dít gaan jy nie opspoor nie.

Olifant


Gedurende die hofmakery periode word bulle so lovesick dat hul ophou eet. Die koeie hou meer kop, aangesien hul leierskap moet neem in ‘n trop of familie. Hul is kieskeurig met hul maats en wag 4 jaar om te paar. Hul vat nie net sommer enigeen nie...

Sjimpansee


Hierdie primate verkies korttermyn verhoudings bo ‘n lewenslange verbintenis. Hul flikflooi met mekaar, deel soentjies uit, baklei en maak op na die tyd. Klink dit bekend? Baie mense sal hulself in hierdie kategorie kan herken, aangesien mens en sjimpansee se gene 96% ooreenstem.

Grawende kewer (“Burying beetle”)


Beskou die kewers as die laeklas van die diereryk. Hul begrawe reste van dooie klein diertjies om later te gebruik as voedsel. Grawende kewers word lewensmaats wat saam na hul kleingoed omsien, selfs na hul uitgebroei het. Geen glansryke lewe vir hierdie goggas nie, en tog vorm hul ‘n hegte familie.

Bowervoël (“Bowerbirds”)


Geld kan nie liefde koop in diere se geval nie, maar duur eiendomme kan. Hierdie voëls, waarvan ‘n paar spesies endemies aan Australië is, is bekend vir hul buitengewone nes-agtige strukture. Die mannetjie bou en versier die struktuur (bower) met stokkies, mos en ander voorwerpe. Sommige van hulle gebruik selfs opgekoude bessies om die “mure” te verf om potensiële lewenslange maats te lok. Die vroutjies deursoek alle huisies (waarskynlik met ‘n snawel-in-die-lug-houding) en sal die mooiste een kies wat vir hul geskik is om ‘n nessie te bou. Elke jaar sal hul terugkom na dieselfde huisie.

Keiserpikkewyn


Almal lyk en tree dalk dieselfde op, maar daar is altyd iemand wat uitstaan in die groep. Keiserpikkewyne kan ‘n geskikte maat uitken wat een uit ‘n duisend is. Tydens die broeiseisoen moet keiserpikkewyne vir maande lank sonder mekaar klaarkom. Pappa hou vir kleintjie in die eier warm, terwyl mamma inkopies moet gaan doen vir die familie (iemand moet sorg vir kos). Hul liefde mag dalk net een seisoen lank wees, maar dit verduur alles, selfs afstand. Gedink jy is die enigste wat in ‘n langafstand verhouding is? Niks is verlore nie. Onthou, pikkewyne kan nie na mekaar vlieg wanneer die afstand te veel word nie, en hul het nie iets soos telefone nie...

Titi aap


Daar is bitter min van hierdie Suid-Amerikaanse ape wat nie lewenslange bande met hul maats sal vorm nie. In teenstelling met meeste ander primate, skrik hegte verbintenisse hul nie af nie. Hul wys hul liefde vir mekaar deur saam op ‘n boomtak te slaap en hou hande vas deur hul sterte wat verstrengel raak.

“White-Fronted” Papegaai


Hierdie kleurvolle Meksikaanse papegaaie is bekend daarvoor om hul gevoelens vir mekaar op die uitgebreide manier ten toon te stel, byvoorbeeld deur oopbek soene. Hul vorm lewenslange bande en maak saam hul kleintjies groot. Soos baie mense, sal sommige papegaaie sterf kort na hul maat se dood (dus ‘n bewys dat diere ook rou).

Swart renoster


Swart renosters neem lank om seksueel volwasse te word. Vir bulle neem dit 7 tot 8 jaar en koeie 5 tot 7 jaar; dis nou te sê as wilddiewe hul nie voor dit in die hande kry nie. Hul is van nature alleenlopers en kom net bymekaar om voort te plant. Tog maak koeie dit nie maklik vir bulle nie. In die paarseisoen merk koeie hul mishopies en die eerste bul wat dit vind volg die leidraad. Hy trap en versprei elke hopie sodat dit moeilik vir die volgende bul is om die reuk te volg. Die paartjie sal vir ‘n paar dae uitgaan, met mekaar paar, en weer hul eie gang gaan. Dan sit mamma met die baba... As jy soek vir ‘n langtermyn verhouding, is hierdie nie die soort vir jou nie.

Buffel


‘n Buffel se liefdeslewe kan vergelyk word met hoërskool. Koeie is geneig om baie aandag te trek wanneer hul vatbaar is, en tog speel hul hard to get. ‘n Bul sal die spesifieke koei bewaak en ander bulle weghou wat ‘n kans met haar probeer vat. Aan die einde is dit die mees dominante bul wat haar kry. Sodra die koei egter swanger is, is sy op haar eie. Gelukkig is die trop (familie) altyd daar om te help en die kalf te beskerm.

Leeu


Ondanks hoe mooi die fliek The Lion King was, is die liefdeslewe daarin ongelukkig nie realiteit nie. In die werklikheid is leeus poligamies; ‘n trop bestaan hoofsaaklik uit wyfies met een of twee mannetjies wat met ALMAL paar. Wyfies doen alles vir die trop: jag vir kos, pas kinders op, bad kinders, leer kinders, speel met kinders, gee liefde aan mannetjie, maak huis skoon en was skottelgoed. Daarteen sal mannetjies omtrent net slaap, TV kyk met ‘n koue bier en seuns uit die huis uit skop wanneer hul oud genoeg is. Selfs wanneer wyfies kos aandra, sal die mannetjie eerste eet. Hul sal die kos wel eerder met die welpies deel as met die wyfies. Moet dus nie ‘n familie met hierdie soort begin as jy nie kans sien vir dít nie.

Luiperd


Luiperds is alleenlopers, en hulle is oukei daarmee. Mannetjies merk hul gebiede wat ander mannetjies nie durf waag oorsteek nie, alhoewel dit mag oorkruis met wyfies se woonareas. ‘n Mannetjie en wyfie se verhouding is soos vriende met voordele; hul spandeer soms tyd met mekaar, maar verwag nie ewige verbintenisse van mekaar nie. Indien ‘n wyfie swanger word, sorg sy alleen vir haar kleintjies. Sy het geweet waarvoor sy haar inlaat.

Waar jy ookal inpas, ek hoop jy kry ‘n maat wat jou behoeftes en begeertes verstaan en vervul. Wys jou wederhelfde jy gee om, selfs al neem jy nie 14 Februarie ernstig op nie. En moenie van jou familie en vriende vergeet nie. Vertel hulle hoe baie jy hulle waardeer. Die liefde is nie net vir Romeos en Juliets nie.

Gelukkige Valentynsdag.

Sunday, 1 January 2012

'n Terugkyk op 2011

Wat ‘n jaar was 2011 nou vir jou. Alhoewel dit nie dié slegste jaar vir my was nie, was dit ook nie die wonderlikste nie. Mens kan nooit ’n perfekte jaar hê nie, maar ek is seker ek sou in ’n tonnellende depressie verval het as dit nie vir sommige mense se bystand was nie.

My jaar het begin terwyl ek steeds in België was vir die Desember vakansie. Ek het by my ou in sy land gekuier na hy ’n jaar saam met my by Stellenbosch geswot het. Dit was wonderlik om ’n wit kersfees saam met hom te spandeer, maar toe dit Januarie word, het ek geweet ek het nog net ’n klein tydjie saam met hom voor ek moes terug vlieg en hom agterlaat. Dit was nie ons eerste afskeid nie, maar dit was my eerste moeilike een vir die jaar.

Die Sondagaand voor die akademiese jaar sou begin, ry ek koshuis toe met die laaste paar goedjies sodat ek alles kan uitpak en my kan tuismaak. Dit was ’n hartseer rit, nie net omdat ek ’n huishen is wat die huis moeilik verlaat nie, maar ook omdat ek die afwesigheid van my ou sterk aangevoel het. Ons het altyd saam kampus toe gery, waar ek hom dan eerste by sy plek sou aflaai. Daarom was dit verstaanbaar dat my ingeboude GPS dit uiters vreemd en verkeerd gevind het toe ek hierdie keer direk na my koshuis afdraai.

Die volgende oggend was die eerste dag van my derde en finale jaar. Dit het sommer ordentelik sleg begin, agtuur op ‘n Maandag oggend, met Plantkunde, by een van die mees bose lektors wat ooit bestaan het. Die atmosfeer wat hy geskep het, het alle bose geeste uit enige persoon verjaag. En op daardie stadium het ons nie geweet dat hy so baie werk aan ons sou voorskryf dat mens geen tyd of energie aan ander vakke sou kon spandeer nie. Na die eerste dag waar ons ordentelik skrik gemaak is oor wat vir ons die semester voorlê, en na ek die belangrike datums in my dagboek aangeteken het, het ek geweet: ons gaan afkak. En so was dit ook...

Nog in die eerste week van klas kry ek ’n e-pos van die redaktrise van ons kampuskoerant. Sy bedank my vir die tweede rubriek wat ek vir haar gestuur het, maar hulle as redaksie het besluit dat hul nie my dienste meer nodig gaan hê nie. Die volgende dag is die koerante uitgedeel op kampus, en daar staan my plaasvervanger se rubriek. Ek was woedend en seergemaak. Toe ek die vorige jaar die nuus ontvang het dat my aansoek suksesvol was, was ek onder die indruk dat die “kontrak” ’n jaar sou duur. Ek het maar net kans gehad om een te publiseer. Die tweede een het ek getik en aangestuur, net om te hoor hul gaan dit, en my dienste verder, nie gebruik nie. Dit was volgens my hoogs onprofessioneel van die redaktrise.

Deur die semester was die enigste sonskyn in my lewe die warm geel sirkel in die somerlug. Dit was bitter warm, asof die hel waardeur ’n mens gegaan het nie genoeg was nie. Ek het saans gesukkel om te slaap. Die gewapende roof wat ek en my familie twee jaar terug deurgemaak het, het weer by my gespook. Alhoewel my familie my ondersteun het, was my eintlike steunpilaar nie fisies by my nie. Dit het ’n groot negatiewe impak op my akademie gehad, so erg dat ek vir die eerste keer getwyfel het of ek sommige vakke sou slaag. Ek het vergeet hoe om te bid en te glo. Ek het nie baie daaroor uitgepraat nie; my vriende het ook hul bekommernisse gehad, ek wou hul nie met myne belas nie.

Alles het te veel geword en ek het eindelik besluit om ’n sielkundige te gaan sien. Dit was vir my eie beswil, en dit het gehelp. My punte het klein bietjie beter geword en ek het klein bietjie meer selfvertroue begin kry.

Dit was in die laaste week van die semester, Donderdag oggend vyfuur, toe my selfoon lui. Dit was die universiteit se beskermingsdienste. Dit kon een van twee dinge wees het ek gedink: of iemand wat ek ken is in die moeilikheid, of dit het iets te doen met my kar. Inderdaad, daar was in my kar ingebreek. My arme groen gholfie, die klein driehoekglas aan die passesierskant uitgeslaan. Die radio, my lisensie, weg. Glasstukkies oral. Tot die agtersitplek was vorentoe gedruk om die emergency kit en een van die speakers uit te haal. Die donner, dis MY kar, MY besittings! My persoonlike spasie! Dit was die gewapende roof van vooraf.

In die eksamentyd kry ons die nuus dat my ma serviks kanker het en sy ’n volledige histerektomie moet ondergaan. In die begin het hierdie inligting nie by my ingesink nie. Ek het nie geweet wat om te dink nie. Het ek dit ooit met iemand bespreek, vra die sielkundige my. Met wie? Ek was daardie tyd alleen by die huis deur die dag, my ma het in die hospitaal gelê, my pa het meeste van die aande gedrink, en ek wou nie dit vir my 15-jarige broer moeiliker maak nie. Ek moes kophou met my leerwerk. Gelukkig kon die dokter alles verwyder en geen kankerselle het agter gebly nie. Groot was die verligting en dankbaarheid. Intussen het ek dit reg gekry om alles in die eerste semester te slaag. In een van die vakke het ek dit amper nie gemaak nie, maar omdat ek gereeld in die klas was, was die lektor bereid om vir my die een punt by te gee. Ek kon met ’n geruste hart vakansie hou.

Die tweede semester het honderd keer beter begin, maar ek was steeds bekommerd oor my en my ou se toekoms. Teen daardie tyd het hy al sy vliegtuigkaartjie bespreek vir Januarie, wat my gerus gestel het, want dit gee my ’n datum om na uit te sien.

Ons groot groep projek het gegaan oor erdwurms. In daardie tyd wat ons grond afgeweeg het, wurms getel het, beespattie rond gestoot het en ure in die laboratoriums spandeer het, het ek die kans gehad om met die res van my groep nuwe vriendskappe te vorm. Dit het die harde werk alles draagliker en die moeite werd gemaak. Dis net jammer dat ons so laat in ons studiejare mekaar eers leer ken het.

Hierdie keer het ek makliker punte gekry. Ek het minder toetse gedruip en besef ek weet eintlik wat ek doen. Die semester was egter nie sonder sy teleurstellings nie. My aansoek as rubriekskrywer vir die kampuskoerant was weer onsuksesvol, my aansoektoets tot die Joernalistiek program was nie goed genoeg nie, en ek het nie vir die Honneursprogram in Dierkunde ingekom nie. Ek het nie verstaan waarom dit so uitgewerk het nie, maar ek het vrede gemaak.

Ons eksamenrooster was ’n georganiseerde gemors: een vak in die eerste week, drie groot vakke in die tweede week, derde week af, en die laaste vak in die vierde week. Wie was die Einstein agter hierdie besluit? Daardie tweede week het gesorg vir slapelose nagte en kopsere.

Ten spyte van die jaar se gebeurtenisse, het ek ’n maand terug my graad gekry en trots gevoel op myself, met die Harry Potter pakkie en al, saam met my mede-Griffindors (aangesien ons fakulteit rooi bande het). Dit was wel vir my hartseer om my koshuis, my tweede tuiste van drie jaar, te verlaat. Dit was ’n skok om te weet dat ek die volgende jaar nie meer op kampus gaan wees nie. Maar die ergste was om afskeid te neem van kosbare vriende wat ek in die drie jaar gemaak het.

Nou die dag gaan speel ek en my broer pool in die mall. Ek sit my handsak op ’n plek neer sodat ek gemakliker kan speel. Na ’n paar rondtes gaan speel ons iets anders. Na tien minute kom ek agter dat ek vergeet het om my sak te vat. Toe ek by die pooltafel aankom, was dit weg. My maag en my keel het plekke omgeruil, waar kon dit wees? Ek vra die bestuurder van die plek of iemand dit dalk nie ingegee het nie. Hy verwys my na die kamerakamer waar ons toe ’n prentjie kry van twee jong meisies wat dit gevat het. Gelukkig was hulle nog in die rondte toe my broer hul gaan soek, maar die sak was nie meer by hulle nie. Eers ontken hul dat hul weet van die handsak. Na hul die kamerabeeld gesien het, vertel hul ’n ander storie, dat hul dit opgetel het, die eienaar gesoek het in die badkamers, en dit weer op die plek gaan sit het. Die kamerabeeld het die teendeel bewys. Toe vertel hul skielik hul “dink” hul het dit in die badkamers vergeet. Vergeet? Regtig? Elk geval, lang storie kort, na ’n lang gesukkel, was alles in dieselfde badkamer gevind: my sak agter die een sanitêre drom, en my selfoon en beursie in ander twee verskillende dromme. Ja, presies, BINNE! Euw, gross. Ek het amper moed verloor, gedink ek gaan nooit my goed terugkry nie. Al daai gevoelens van mense wat nie ander se besittings respekteer nie, jou persoonlike spasie wat aangetas word. As dit nie vir my broer en die sekuriteitswagte se vasberadenheid was nie, het ek dit nie gehou nie.

In 2011 het ek geleer dat goeie vriende nie sal weghol as jy jou vrese en bekommernisse met hul wil deel nie. Dis oukei om nie altyd sterk te wees nie. Ek vergeet soms dat ek werklik instaat is om sommige dinge te doen. Ek het ook geleer dat almal huil, al weet mens nie daarvan nie. En daar is mense wat sukkel met dieselfde goed as jy, meer as wat mens dink. Ek is definitief nie spyt dat die jaar tot ’n einde gekom het nie, maar soos ek sê, as dit nie vir familie, my ou, en vriende (die oues en die nuwes) was nie, was ek lankal ingeboek in een van die groendakkie huise.

My voornemings vir 2012? Om eerlik te wees, ek het geen idee nie. Ek het ’n hele paar opsies wat ek nog oorweeg. Ek wil myself besig hou met konstruktiewe dinge, dinge wat ek al lank wou doen, maar nooit voor tyd gehad het nie omdat ek net moes oorleef en studeer, en asemhaal. Ek gaan na myself kyk vir ’n slag, ’n mens word, want studente is nie mense nie. Op hierdie oomblik dink ek egter net aan my ou wat oor twee weke kom kuier...

Gelukkige nuwe jaar! Mag hierdie een beter wees as die vorige. Kyk mooi na julself.