Sunday, 27 November 2011

Klein Jakkalsies: Deel 2

Graag wil ek aan jou as leser sê: baie dankie dat jy jou tyd afstaan om die tweede gedeelte van hierdie tema te lees. Dit beteken dat ek iets reg gedoen het toe ek met my lys van irritasies begin het, of dat dit ’n absolute flop was en jy dink dat hierdie een beter sal wees. Wat die rede ookal is, ek is net bly dat jy dit lees. Hoe hoër die “blog views” is, hoe beter laat dit my voel, ongeag wat julle van my blog dink...

So hier volg my lys van irritasies: Deel 2! Geniet dit.

1) Verwagtinge wat mense van my het.
Hoe ouer en verder gevorderd of gekwalifiseerd ’n mens word, hoe meer verwagtinge word daar aan jou gestel. En met goeie rede ook. Mens verwag dat ’n mediese student byvoorbeeld na vyf jaar tog moet weet waar die lewer in die liggaam sit... Ja goed, simpel voorbeeld, maar jul verstaan wat ek bedoel. Die tipe verwagtinge waarvan ek praat is minder lewensbelangrik, maar tog blyk dit om saak te maak vir sommige mense. Kom ek vat my lektors as ’n voorbeeld. Voor toetse stel hul memo’s van vorige jare beskikbaar aan ons, alhoewel dit meer soos preke voel. Kort-kort word daar genoem hoe daar van ons as derdejaars verwag word om op hierdie vlak reeds te weet hoe om daardie tipe vrae in detail te beantwoord. Dis wat hulle sê, maar wat dit eintlik beteken is dat hul verwag dat ons teen dié tyd hul gedagtes kan lees en antwoorde kan ruik vanaf vraestelle. Kyk Professor, net omdat jy al vir 50 jaar die vak aanbied en antwoorde ken, beteken dit nie dat jou intelligensie na ons oorgedra word nie. Ek kan aangaan met mense se verwagtinge wat tyd behels, maar dit hou ek vir ’n volgende deel.

2) Rokers wat voor mens stap en rook.
Ek was nooit verslaaf aan rook tot drie jaar gelede nie. Sekondêre rook bedoel ek. Alles te danke aan die primêre rokers wat voor mens stap en vrygewig hul pad merk met rookseine. Dit verbaas my altyd dat daar mense is wat 7:30 die oggend oppad klas toe ’n stompie moet suig. Is jou eerste klas in die oggend regtig só stresvol dat jy ’n sigaretjie moet rook? Ek het niks teen jou as persoon nie, ek is net nie lus om elke dag my hare te was en skoon klere aan te trek as gevolg van mense soos julle nie. Dalk ruik jy nie die rook aan jou nie, maar ek ruik dit aan my, en dit stink! En glo dit of nie, jul vererger party mense se hooikoorsvlakke. Weereens, dis nie julle nie, dis my longe... Dink jy ek’s onredelik? Vertel my hoe sou jy voel as ek insekgif oral waar ek stap sou rond spuit, terwyl jy agter my aanstap en die goed heeltyd ruik en inasem? Dis dieselle konsep.

3) Stadige wandelaars.
As daar een ding is wat net so erg is soos rokers wat voor jou stap, is dit stadige wandelaars wat voor jou stap, veral as daar min spasie is om verby te beweeg, en veral wanneer jy haastig is. Mense, sommige van ons hét ’n plek/afspraak/klas/werk om by uit te kom, mense wat nie glo in African time nie. As jy jou tyd wil neem (wat ek vir almal gun, want die lewe is klaar so ’n gejaag), probeer tog net ’n spasie los vir ons arme losers wat nie tyd in ons hande het nie...

4) Wanneer universiteits-eksamenpunte op die stelsel teruggetrek word.
My pa is soms aan die vergeetagtige kant, wat beteken dat hy meestal sy tyd neem om uitstaande klasgelde te betaal. Die universiteit weerhou dan alle prestasiepunte tot alle skuld vereffen is. Ek het nie ’n probleem daarmee nie. Nee, ek het ’n probleem daarmee as ek nie my punte kan sien nie (dit laat my meer stres oor my uitslae), maar gewoonlik word dit gou uitgesorteer. Wat ek wel nie verstaan nie, is wanneer mens se November eksamenpunte teruggehou word, word die Junie eksamenpunte ook teruggetrek. Hallo, ek WEET wat my punte verlede semester was, so wat’s die punt daarvan om dit ook terug te trek? Admin, weet jy...

5) Wanneer mens vra wat ek met my graad kan doen.
Die eerste dertig keer wat ek gevra is wat ek swot en wat ek kan doen met my graad, was nog snaaks. Nie meer nie. Ek lag steeds vir daardie vrae, maar meer uit ongeloof dat nog iemand my dit vra as iets anders. Goed, ek gaan dit vir almal mooi uiteensit, dan kan niemand meer sê hul weet nie wat my graad beteken nie (tensy hul nie hierdie blog lees nie, wat beteken ek gaan dit nog baie moet doen). Ek studeer BSc (Bachelor of Sciences) in Biodiversiteit en Ekologie. Biodiversiteit is biologiese diversiteit of variasie van lewe (spesies, ekosisteme en genetiese materiaal) in ’n sekere gebied, habitat, bioom of ekostelsel. Ekologie is die verhouding van organismes met mekaar (ook die mens) met hul fisiese omgewing. Dit is ’n biologiese veld en bevat die volgende tipiese vakke: biochemie, biodiversiteit en ekologie, biologie, chemie, dierkunde, fisika, genetika, mikrobiologie, plantkunde, rekenaarvaardighede, en wiskunde. Dis wat ek tog gehad het. Ons het egter gespesialiseer in plant- en dierkunde. Soos jul kan sien is ons rigting uiters divers, net soos die geleenthede wat daar vir ons is. Dis nie soos ’n mediese student wat definitief ’n dokter gaan word of iemand wat onderwys swot wat vir ’n feit ’n onderwyser gaan word nie. Ja, ons word wetenskaplikes, maar ons veld is breër as dit. Maar as jy nou regtig wil weet wat ek met my graad kan word en doen, hier volg ’n lys (nie in ’n spesifieke volgorde):

Wetenskaplike
Bioloog
Ekoloog
Dierkundige
Plantkundige
Omgewingsbestuurder
Joernalis
Onderwyser
Navorser
Skrywer
Fotograaf
Wildbewaarder
Impak studies
Bankier
Illustreerder
Kunstenaar
Stripper
Danser
Sportster
Ontwerper
Skoonmaker
Tuinwerker
Verkoper
Smokkelaar
Entrepreneur
Winkelier
Boemelaar
Komediant
Musikant
Sanger
Aktrise
Ensovoorts......

Volgende keer as iemand dit weer aan my vra, sal ek hierdie lys vir hul gee en sê: “Enige van die volgende.” Is jy nou gelukkig? Let wel dat alles in die lys wyd verspreid in werksopsigte kan wees. Let ook op dat ek nie noodwendig alles as 'n opsie vir myself beskou nie...

Sunday, 20 November 2011

Klein Jakkalsies: Deel 1

Die lewe is wonderlik en aangenaam, afhangende van wat jy daarvan maak, maar ongelukkig is die wêreld nie sonder sy irritasies nie. Almal het irritasies, of dit nou klein jakkalsies is wat knibbel aan jou hakskene of groot wolwe is wat jou kou soos ’n hoenderbeentjie. Soms bring jy dit aan jouself, soms is dit die doen en late van ander mense, maar meestal is dit ’n kombinasie. Nee ek jok, dis meestal idiote se skuld, maar as dit nie vir hulle was nie, was daar minder om oor te lag.

Ek het ’n hele lys; daar is soveel irritasies dat ek dit in dele moes opbreek. Mens sal vir ewig lees as ek alles in een blog moes skryf, of net glad nie lees nie. Dus, vir jullle (en my) gerief is alles verdeel om jul geïnteresseerd te hou. Miskien vind jy iets wat ons in gemeen het. En as jy vind dat jy die oorsaak van enige van hierdie irritasies is, stop dit nou! Jy irriteer mense.

So hier is my lys van irritasies: Deel 1

1) Mense wat nie verstaanbare Engels kan praat nie.
Ons bly in ’n land met elf amptelike tale. Dis onmoontlik vir ’n normale persoon om al elf te leer, so die enigste manier om met mekaar te kommunikeer is deur Engels (gelukkige Engelse blikskottels wat in elk geval te lui is om ander tale te leer). En tog is daar mense wat nou nog nie ordentelike Engels kan praat nie. Ek moet erken dat my tweede taal nou nie wonderlik is nie, maar te minste is ek nog verstaanbaar. In baie gevalle moet mense meer as drie keer vra om te herhaal wat hulle gesê het. Doen tog moeite! Kry vir jou ’n fonetiese woordeboek! 

2) Ooglopende spelfoute en gramatikale foute op klasnotas.
Meeste van my klasse loop van agtuur tot vyfuur, waarna ek terug koshuis toe moet stap, koshuiskos afwurg, vinnig in die stort spring om die slegte dag van my af te skrop en dan moet ek nog vir daardie simpel toets in ’n kort periode leer. Teen daai tyd is ek keelvol van al die werk, so jy kan net dink hoe erg dit my frustreer om spelfoute te ontdek en die sinskonstruksies glad nie sin maak nie. Dít maak die alreeds moeilike werk net nog moeiliker! Professors en onderwysers, as julle nie kan spel of ordentelik vertaal nie, moet dit om hemelsnaam nie van jul studente verwag nie. Dis uiters hipokreties van julle!

3) Ego’s oor kommunikasie toestelle.
Talle mense het vantevore vir my gesê dat ek ’n mooi, diep, besonderse stem het. Party het gevra of ek sing (ek het in skoolkoor gesing ja), en ander glo weer my stem is gepas vir radio. Almal wat ons familie ken het al genoem dat ek soos my ma klink. Dankie vir die komplimente. Dit beteken egter nie dat ek my eie stem wil hoor nie. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is bly ek het ’n diep stem in plaas van ’n hoë skril stemmetjie, maar om my stem te hoor is net eienaardig vir my. Dit laat my ongemaklik voel. Jy weet, daardie gevoel van: “Is dit regtig MY stem? Klink ek SO?”. As ek diep in gesprek is met iemand oor ’n tegnologiese kommunikasie toestel (soos ’n telefoon, selfoon, of ’n rekenaarprogram soos Skype), haat ek dit om ego’s van my stem te hoor. Die mense aan die anderkant van die lyn dink seker ek is vertraag of iets elke keer as dit gebeur, want ek stop in die middel van ’n frase net om te hoor hoe klink dit. Ek kan nie konsentreer op wat ek volgende moet sê om die sin klaar te maak nie! Ego’s help skeinbaar vir mense wat hakkel, maar in my geval laat dit my net meer hakkel.

4) Liggelowige mense.
My probleem lê meer by liggelowige mense wat boodskappe oor e-pos, sms, bbm, Facebook, watter manier ookal, verstuur aan mense as liggelowige mense self. Die chainletters wat hul vir jou stuur lui tipies soos die volgende: “As jy dit nie vir 50 mense binne die volgende 50 sekondes stuur nie, gaan ’n pterosauriër op jou kop poef,” of “Stuur dit nou en jy sal deur die liefde van jou lewe gesoen word”. Regtig? Ek het nog nooit ’n koerantopskrif gelees wat sê: “Persoon sterf omdat hy nie boodskap wou aanstuur”. Buitendien, ek het nie soveel mense op my kontaklyste nie! As dit ’n oulike boodskappie is, stuur dit enige tyd vir my, maar net as jy wil, nie omdat jy verplig voel nie. Laat my toe om dit duidelik te maak vir eens en vir altyd. Nommer een: Facebook gaan jou nie uit die netwerk uitskop nie, al is jy jare onaktief. Daar is mense wat oorlede is wie se profiele steeds in die kuberuim rondsweef. Nommer twee: jy sal altyd bbm’s vir jou maatjies kan stuur (behalwe as daar iets fout met hul netwerk is). Nommer drie: Google het al die geld in die wêreld. Hul is nie bereid om die volle bedrag vir iemand se operasie, wat hul lewe kan red, te betaal nie. Nee, maar hulle is wel bereid om 5 sent te gee vir elke e-pos wat jy versprei om hierdie opgemaakte hartseer storie te vertel. Hoe goedhartig! Onthou net daar is mense, wat nie ’n lewe het nie, wat hierdie tipe goed opmaak en agterna lag vir ons. Jy moet kan onderskei tussen fiksie en waarheid.

5) Huistakies op ongeleë tye.
Ek gee regtig nie om om uit te help met huistakies soos wasgoed was en ophang of skottelgoed in die skottelmasjien pak (want ek haat dit om skottelgoed te was) of om ander gunsies te doen nie. Nee, regtig, ek gee nie om nie, maar wel nie op die verkeerde tyd nie. My ouers gebruik graag verskonings soos: “Sal jy as jy ’n studiebreuk neem vir my die wasgoed ophang?” of “Jy het mos nou vakansie”. Ja, ek beskou mos wasgoed ophang as ’n goeie ruskansie en ek hou mos daarvan om my vrye tyd aan jul gunsies te spandeer as ek pas opgestaan het/by die huis gekom het/besig is met dinge wat vir my belangrik is/min tyd eintlik het. Ek sê weereens, ek is my ouers ewig dankbaar en help graag waar ek kan, net nie op die verkeerde tyd nie, en moet asseblief nie aanstoot neem daaroor nie.

Tuesday, 30 August 2011

Om roofdiere te oorleef in 'n Natuurreservaat

Hoe mooi is hierdie land van ons met so ’n groot diversiteit. En hierdie Stellenbosche habitat is geen uitsondering nie. Tussen die inheemse en uitheemse plante wandel soveel individue oor die rooiplein en rus op die grasvlaktes. Aan die een kant sien mens waaghalsiges wat die Victoriapad oorsteek en aan die anderkant hardloop klomp jong eerstejaartjies. Tog te pragtig.

Ons bly inderdaad in ’n land van sonskyn, skoonheid en wild, maar ook in een met ’n hoë misdaadsyfer. Mens kan dit sien deur na enige woonbuurt op te let: elke tweede huis, indien nie elkeen nie, is omring deur mure. Die versekering wil deesdae nie meer enige skade en verlore goedere uitbetaal indien elke venster nie agter tralies is en jou tuin nie omring word deur elektriese drade of slagysters nie. En dan moet jy nog ’n “pasop vir die hond”-bordjie op jou muur hang.

Ons lewe soos diere in een groot dieretuin, ingehok en bang, en word van buite af beloer en bekyk. Terwyl ons alle boosheid probeer uitsluit, sluit ons onsself eintlik in. Tog is daar wilddiewe wat dit regkry om die ystertralies oop te buig, die hok in te gaan, en die renoster se horing te steel. Hulle voel vere vir ’n lewe. Waarom is óns diegene wat opgesluit is...

Kampus is weer soos ’n natuurreservaat: meer ruimte, meer beweging en meer natuur. Dit skep die illusie van vryheid terwyl ons onder bewaring is, alhoewel almal teen die tyd weet dat diere, selfs in ’n natuurreservaat, nie altyd beskerm kan word nie. Met onlangse gebeurtenisse in die Lettere gebou word daar beplan om elke gebou op kampus se sekuriteit te versterk sodat alle kalfies veilig hul kraal kan betree. Dis ’n goeie ding. Die enigste probleem is wanneer die moeilikheidmakers ingenooi word. As die pes eers in is, kry jy dit nie maklik uit nie. Die skade is gedoen.

Gevaar is egter nie net tot binne geboue beperk nie. Inteendeel, ’n individu loop die meeste gevaar buite, veral wanneer hul alleen in die nag rondloop. Meeste predators is nagdiere wat jag onder die maanlig en hulle gaan vir maklike teikens. Daarom is dit beter om saans in groot groepe te beweeg. Dit is wetenskaplik bewys dat groot groepe geneig is om predators te verwar. Met meer as genoeg pare oë wat uitkyk vir dinge wat nie pluis is nie, neem dit slegs een lid om die res te waarsku indien nodig. Dieselfde geld natuurlik ook vir ’n groep predators. Natuurlike seleksie en jare se ondervinding het hul geleer om saam te werk om te kry wat hul wil hê. In so ’n geval sal dit die prooi nie help om te veg nie. Vlug eerder, dit sal jou kans om te oorleef vergroot.

Sekuriteitskameras hou wel die strate dop, maar is nie altyd deeglik genoeg indien iemand uit hul dieretuinhok wil ontsnap soos The Penguins of Madagascar nie. Mens kan net só lank na jou vier kamermure staar en jou kamermaat se geselsskap waardeer.


Elkeen moet nou en dan uit hul realiteit “ontsnap” na bietjie vryheid, dit waag om die perfekte maat te soek, terwyl jy moet uitkyk vir roofdiere en karre wat oor die pad jaag wanneer jy wil oorsteek, net om terug te keer na ’n plek waar jy die sonsopkoms veilig agter tralies kan waardeer. Die hartseer is dat min individue gemaklik sou wees indien al hierdie veiligheidsmeganismes verwyder sou word. En Stellenbosch is geen uitsondering.

Tuesday, 14 June 2011

Waar daar 'n Rokie is...

My enigste vorm van oefening is wanneer ek klas toe loop, of in die uiterste gevalle as ek laat is, snelloop. Klas toe draf gebeur selde tot nooit. Die pad vanaf my koshuis tot by die klas is te ver vir iemand met my fiksheidsvlak om te draf. En so lief is ek nou nie vir my kursus dat ek eerste by die lokaal wil wees nie.

Een slegte gewoonte wat ek aangeleer het as ‘n student is rook. Ek rook vandat ek ‘n eerstejaar is en mense kan dit altyd aan jou ruik. Nogtans probeer ek daarvan wegkom, maar niks wat ek doen werk nie. Elke dag wat ek klas toe stap, voel ek meer uitasem met my rokerslonge (bevestiging waarom ek nie klas toe draf nie). As ek weer sien, volg ek iemand wat met ‘n sigaret in die hand stap. So, met elke asemteug wat ek inneem, word ek daaraan herinner waarom ek nie sonder rook kan klaarkom nie. Ek kan dit nie help nie, ek is verslaaf. Met elke sigaretstompie wat op die grond gegooi word, voel ek wel sleg vir die eekhorings en duiwe wat dit gaan optel en ook verslaaf raak. Ek voel vervolgens nog slegter as ek my verbeel dat elke boom bevolk is met rokende eekhorings. En hulle het ‘n attitude hoor...

Al hierdie gedagtes, en ek het nog nooit eers ‘n sigaret in my mond gehad nie, maar met al die sekondêre rook in die omgewing is dit nie nodig nie. Rokende studente het die neiging om by sekere geboue se ingange saam te bondel, en enige rookseine en -figure wat deur hul rookstokkies opgetower word, val mens aan sodra jy daardeur beweeg. Dis genoeg om mens op 'n high te sit vir jou volgende Genetika les, en miskien is dit die rede waarom ek 'n hereksamen aan die einde van die jaar vir hierdie vak moes aflê. Die onttrekkingsimptome het my ondergekry toe ek in die skoon omgewing van my tuiste gestudeer het.

Nou is ek darem skoon, glo ek, maar ons sal sien wat gebeur wanneer klasse weer begin. Net omdat jy jouself kan afsonder van rook, beteken dit nie ander mense gaan hul laaste sigaretstompies dood druk nie.

Indien ek enige rokers se gevoellens seergemaak het, wil ek net sê: it’s not you, it’s your carbon footprint, and my lungs.

Monday, 6 June 2011

Verlange

Verlange
is 'n hart wat roep na 'n ander,
'n traan wat loop
omdat dit nie sy sin kon kry,

tyd wat verloop...
en emosies wat ly.

Verlange
maak die wag baie langer
alhoewel tyd tog verander.

Woorde is nie meer genoeg
sonder die aanraking
van 'n liefling.

Liefde maak dit moeilik
Liefde maak dit maklik
Liefde maak jou hartseer
Liefde maak jou bly

Soggens is jy die son
wat my wakker maak.
Saans is jy die sterre
wat my laat slaap.

Ek sien jou naam...
Ek hoor en voel dit oral!
Ons is altyd saam,
maak nie saak waar ookal.

Ek sal aan Hoop vashou,
jou sakdoek bly vasklou,
en wens more was al nou...

Gou
wil ek jou weer vashou
en nooit weer laat gaan,

Want jy is 'n man so na my hart,
'n Man wat ek definitief moet hou.

Thursday, 2 June 2011

Dis Leeuwêreld

Hierdie leesbrokkie is 'n rubriek wat ek ingeskryf het vir die studentekoerant verlede jaar. Dit was in die tydperk toe ons kampus se rekenaargebruikersareas (RGA's) nuwe printers gekry het.

Groot is my verbasing noudat ek vir die eerste keer te staan kom voor hierdie nuwe gediertes. Ek het gelees en gehoor daarvan, maar nooit gedink dat dit in my natuurlike habitat sou voorkom nie. Daar staan die goed nou, dreunend en dreigend, en oral staan mense met onsekerheid geskryf op hul gesigte.

Die naweek is verby en mens het notas nodig vir die aankomende week. So in my haastigheid na my RGA se oop area, waar ek (gelukkig) ‘n sitplek kry, volg ek die gewone roetine op die intranet tot by my vakkelys en kies die gewoonlike printer om my papiere uit te druk. Ek staan onmiddelik op om dit te gaan haal, voor ‘n aasvoël dit per ongeluk vir homself vat, en dis hier waar ek in my spore vries voor die gemuteerde gedrogte. Sien, ek is verstrooid, so ek sien nie sulke dinge in die begin raak tot dit te laat is nie.

Dit neem my drie sekondes om agter te kom ek het te make met die nuwe RGA-printers. Dit neem egter drie minute om die twee lyne instruksies op die klein swart skermpie bo dit in my kop te kry en te besef dat my papiere nie vanself gaan uitkom nie. Daarom beweeg ek na die rekenaar om die nodige aanpassings te maak.

Terug by die printers staan ek soos ‘n meerkat wat die hele besigheid dophou. Instinktief weet ek dat ‘n studentekaart êrens gebruik moet word, maar waar? My oë hou die enkeles wat rondom my staan dop: hul gesigsuitdrukkings is onduidelik. Ek kan nie agterkom of hulle ook verward is of net ‘n blou Maandag beleef nie. Dalk is hul werksdruk so erg dat hulle ook nie dié van onbekende printers kan hanteer nie?

Gelukkig voor ons breine oorgaan na hibernasie, kom iemand na vore en veeg hul kaart bo een van die drukkers. Gehoorsaam en mak soos ‘n hond wat iets aan sy baas terugbring, spoeg dit alles uit wat die persoon verwag. So dís waar die kaart gehou moet word, sê ek vir myself. Geen wonder ek kon dit nie vind nie. Mense soos ek moet hoog op hul tone staan om te sien waar die kaart geveeg moet word en dan moet jou arm nog ver rek ook! Wat is ons, ballerinas? Ons het nie almal kameelperdnekke wat alles, plus wat die weer daarbo is, raaksien nie. Wat het moedernatuur besiel om by my die kort-gene te selekteer...

Ek strek my studente kaart na die sensor bo-op die printer. My notas kom een vir een uit, slegs myne, geïnk aan albei kante, reg vir my om op my gemak te neem. Wat ‘n wonderlike stelsel! Nooit weer sal getalle roofdiere rondom printers vergader en kompeteer vir ‘n geleentheid om sy notas tussen vele ander papiere soos vleis te gryp en hardloop, en in die proses iemand anders s’n steel nie (vleis is duur genoeg). En die papier wat bespaar word, laat my ook minder skuldig voel oor die bome wat ek al moes afkap vir akademiese redes. As ek dit bietjie kon verbeter, sou ek wel ‘n stoeltjie of twee naby die drukkers plaas vir korter mense om op te staan of die tafel se pote korter sny.

Noudat ek alles het wat ek benodig, stap ek buite op kampusvelde. Elke dag is 'n stryd om te oorleef. Jy moet vat wat jy kry of honger bly. Dis waarom ek so gou moontlik by die woude van koswinkels probeer uitkom, want met die paar “bome” wat afgekap is by die ingang en deur 'n bank oorgeneem is, word dit moeiliker om tydens middagete sitplek te kry. Nie dat ek graag binne sit nie, ek verkies die ope lug se sonstrale, maar dit bly altyd 'n uitdaging om kos in die hande te kry. As jy nie versigtig is nie, kom jy dalk nie weer daar uit nie. Wel, ten minste nie vir 'n hele uur nie.

Alles wat ons doen is eintlik 'n poging tot oorlewing en elkeen is aangepas om sy omgewing te oorleef. Sommiges is heterosigote wat dominante eienskappe toon in hul dade, maar ook goed doen in ander sake. Ander is homosigote wat slegs in een ding spesialiseer en domineer. Tog dink ek dis belangrik om 'n balans te handhaaf. Wees eerder 'n heterosigoot: werk hard aan jou akademie of passie, maar ontspan en leef bietjie ook. Heterosigote kan beter aanpas wanneer die omgewing veranderinge ondergaan.

Elke spesie sal hopelik aan die anderkant uitkom, of dit studente is van Natuurwetenskappe (gekenmerk deur wit laboratoriumjasse), Regsgeleerdheid (hulle lyk meestal gekleed vir die hof), Opvoedkunde (telkens verwar met Kunsstudente) of Ingenieurswese (wat elkgeval sal uitsterf as hulle nie gou die teenoorgestelde geslag ontmoet nie). Survival of the fittest: dis Leeuwêreld dié.

Friday, 8 April 2011

Die Goeie Ou Gholf

Dis nou amper 3 jaar wat ek ‘n bestuurslisensie het. Wanneer mens eindelik alleen mag rondry, kom mens vir die eerste keer agter hoeveel motoriste kan eintlik nie bestuur nie. Dink bietjie daaraan: hoeveel keer het jy al gedink “Waar het hierdie mens sy lisensie gekoop? Kyk net hoe ry hy!” of “Ry magtag, die lig is lankal groen!” of my gunsteling “Jy ry 60 op ‘n 100km/h sone. Links met jou!”. Let daarop dat hierdie kommentare ook ongesensorde weergawes het.

My eerste karretjie, wat ek steeds gebruik, is ’n ou Chico Gholfie. Ek was vroeër skepties om my ma se kar oor te neem. ‘n Gholf is nie een van die mooiste motors op die pad nie, en hierdie een se kleur was nie my eerste keuse nie. Maar ek is nog jonk en nuut op die pad, het ek later gedink. Ek sal waarskynlik nog hier en daar stampe maak (dis iets waaroor ek nie praat nie), so ek kan dit net sowel met ’n ouer kar doen. Dit het my ’n tydjie geneem om aan die pedale gewoond te word, maar na so ’n week het my voete dit uitgewerk. Van toe af het ek geen ander karre begeer nie, meestal omdat ek nie met enige kar behalwe ’n Gholf kan ry nie! Die oomblik as ek agter ’n ander motor se stuurwiel klim, voel dit asof ek met elke rem deur die voorruit wil vlieg, so sensitief is die goed... Nog ’n rede om altyd jou veiligheidsgordel aan te sit.

Ek sien baie studente op kampus wat rondry met hul BMW’s (Blik Met Wiele). Hul het hierdie “Bankrot Maar Windgat” houdings en glo hul kan ry soos dit hul pas, want mamma en pappa is ryk en hulle sal sorg vir my, so ek hoef nie my goed op te pas nie. Natuurlik is hierdie net ’n veralgemening, maar om eerlik te wees, ek sien nie altyd ’n verskil in die volwassenes met BMW’s se gedrag nie.

Nou die dag sien ek een van hierdie nuwe Mini Cooper modelle, en die nommerplaat lees “Thnx Dad”. Nou wonder ek as hierdie persoon skielik hierdie kar met ’n goedkoop skedonk moes vervang, dat die familie byvoorbeeld die Cooper verkoop om dringend geld te kry, sou daardie persoon die nommerplaat behou? Dan sal dit meer sarkasties gelees word: “Thanks dad”.

Die Gholf is volgens my mening een van die beste motors wat bestaan, en dis my redes:
  • Dis van die goedkoopste karre om te koop.
  • Dis een van die beste studentekarre.
  • ’n Gholf se versekering is hoër as dié van ’n Jeep; dis eintlik hoër as enige motor se versekering.
  • Die Gholf kan ook, soos ‘n 4x4, oor sypaadjies klim en die bodem skuur nie as dit oor ’n drempel gaan nie, soos in die geval van “lae motors”.
  • Dit het wel nie kragstuur nie, maar dit gee mens kans om armoefeninge te doen by draaie en parkeerplekke.
  • Mens verloor nie so maklik beheer oor die stuurwiel nie, selfs al waai die wind erg oor die pad.
  • Dit kan net so vinnig, indien nie vinniger nie, as enige ander tipe motor gaan.
  • ’n Gholf kan maklik 10 mense inprop, en die gewig dra...
  • Aangesien Gholfproduksie gestaak is, sal daar oor die jare minder en minder van dit voorkom. Met ander woorde, ek besit ’n potensiële “collectable”!
Vir ’n kar wat meer as 120 000km afgelê het, ouer as ’n dekade is en ’n paar stampe en stote ervaar het, lyk my ou karretjie nog goed. Nog nooit het my Gholf my in die middel van nêrens langs die pad laat staan nie. Die een keer toe dit nie wou aanskakel nie, was ek darem by ‘n inkopiesentrum, helder oor dag. Ek kom altyd by my bestemming uit. Ek hoop dat ek te minste nog 100 000km met hierdie kar kan deurmaak. My leuse is respekteer jou kar, en die kar sal jou respekteer. Mens kan gerus van nou af met nuwe oë na ’n Gholf kyk.

Wednesday, 30 March 2011

Aangename kennis

Ek moet sê, ek het vir ‘n hele tydjie gewonder of ek ‘n blog moet begin of nie. Die tipiese navorser wat ek is, het eers alles gaan opsoek oor blogs: watter blog website is die beste om mee te begin, wat is die voor- en nadele van blogs, kan mens beroemd word met jou blogs, ensovoorts. Daar was ’n paar dinge wat my laat twyfel het, maar op die ou end het my lus vir skryf te veel geraak. So hier is my eerste bloginskrywing, en dit voel wonderlik!

Ek is ’n derde jaar student op universiteit. Wanneer mense aan my vra wat ek studeer, is dit altyd interessant om hul gesigsuitdrukking te sien wanneer ek terug antwoord met “BSc Biodiversiteit en Ekologie”. Dis nogal ’n mondvol, ek weet. As hulle na 5 sekondes steeds met verwarde wye oë na my staar, dan weet ek hul het geen idee wat ek gesê het nie. Ek kon net sowel Grieks gepraat het. Dan verduidelik ek my studierigting: “Plant- en Dierkunde” of “Plante en diere en hoe hul in ’n omgewing saam leef”. Dis dan wanneer die liggies aangaan. Ek blameer hul nie. My rigting klink amper soos ’n tonguetwister. Maar dit wat ons leer is baie interessant. Ons kla baie oor die werkslading (en dit ís hoog), maar ek’s altyd verras met die hoeveelheid kennis wat ek opdoen. Ek kan baie vertel, maar dis ’n storie vir ’n volgende blog...

Die ander rede waarom ek met ’n blog begin het, is omdat ek nie meer my kreatiwiteit vir myself wil hou nie. Wat help dit mens skryf gedigte, stories, liedjies, boeke of rubrieke, maar jy hou dit vir jouself? Die kunste in skryf is nooit objektief nie; iets wat een persoon nie goed vind nie, is weer goed vir ’n ander. Ek wil skryf sodat ander dit kan lees. Wie weet, dalk word ek die volgende J.K. Rowling!

Ek was brieweredaktrise van ons hoërskoolkoerant, en verlede jaar is my eerste (en laaste) rubriek in die universiteit se koerant geplaas. Toevallig was die redaktrise van my skoolkoerant, en dié van die universiteitskoerant nou, dieselfde persoon...

Daar word konstant aan ons vertel wat om te skryf en wat mag nie genoem word nie. Wel, ek gaan dit nie hier duld nie! Ek sal die woord “kuier” gebruik wanneer ek wil, al het my onderwysers dit ’n slegte konnotasie gegee. Ek sal skoolkinders raad gee oor hoe om tyd in saalperiodes vinniger te laat verby gaan, al glo onderwysers dit sal ’n slegte invloed op hul hê. Ek sal aanhou skryf, al dink die redaksie dat my rubriektemas beperk is en my skryfstyl werk nodig het.

Waarom hulle my in die eerste plek as rubriekskrywer aangestel het, net om my (voor my tweede rubriek) te vervang, sal ek nooit verstaan nie. Dit voel vir my hul het nooit vir my ’n ordentelike kans gegee nie. Ek was skaars gewoond aan die idee, toe word ek afgedank. In die afgelope 3 maande was 2 Afrikaanse rubriekskrywers vervang deur ander skrywers. Waarom sukkel hulle nog met Afrikaanse rubrieke as meer as die helfte van die bladsy gevul word met die Engelse rubrieke elke keer? En die ergste van alles is, dit wil voorkom asof die een wat my plek ingeneem het al my idees, wat ek vroeër vir die redaktrise gestuur het, gebruik. O, ek dag my idees is beperk? Kyk, ek kan altyd my sinskonstruksies en anglisismes verbeter, maar die redaksie van nou sal nooit werksetiket begryp nie.

Al vermeerder die spelfoute in die studentekoerant soos die jaar aangaan, sal ek dit altyd lees. Dis my manier om op hoogte van kampusnuus te bly, aangesien ek as derdejaar nie meer baie uitkom nie... Miskien doen ek weer aansoek. Die redaktrise het my gevra, want volgens haar het ek potensiaal. "Natuurlik het ek potensiaal!" dink ek by myself. *Sarkasme aan*. Dis sy wat geïntimideer is deur my, as julle my vra. Jaloesie laat mens lelike dinge doen. Maar wat weet ek? My kreatiwiteit is mos beperk... *Sarkasme af*.

Hopelik sal ek verbeter met elke skryfstuk en groei as toekomstige Afrikaanse skrywer. Dit is my groot droom.